Coetzee en Vorster oorheers toer

Padfietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Drikus Coetzee (Hollard Life) en Michelle Vorster (Pupkewitz Megabuild) is Saterdagaand in die hoofstad as die algehele wenners van die 2020 Pupkewitz Tour de Windhoek-padfietstoer gekroon.

Tristan de Lange wat die tweede posisie ingeneem het, het Coetzee Vrydagoggend met die eerste skof oor 108 kilometer by die Dordabis-pad tydens 'n naelrit na die eindstreep met 'n kortkop geklop.

Alhoewel De Lange gewen het, is hy en Coetzee dieselfde tyd van 2 ure 42 minute 43 sekondes (2:42:43) toegeken. Die ­jeugdige Hugo Hahn wat as die beste jongryer van die toer aangewys is, was derde met 2:43:39.

By die vroue het Vorster die eerste skof van 67,64 km in 2:02:37 haar ­meesterskap opnuut met 'n pragvertoning bewys. Risa Dreyer en Genevieve Weber (beide Mannies Bike Mecca) was onderskeidelik tweede en derde met 2:05:56 en 2:07:22.

Die tweede skof Vrydagnamiddag by die Tony Rust-renbaan was 'n spantydtoets waar die derde ryer oor die wenstreep se tyd getel het. Coetzee se Hollard Life-span het uitstekend saamgewerk om die ses rondes van 2,6 km (15,6 km) in 22:34 af te blits.

Dit het Coetzee 'n twee sekonde voorsprong bo De Lange gegee. De Lange se Mannie's Bike Mecca-span was tweede in 22:36, gevolg deur die NCCS Pro­cyclings-span in 24:57.

Die twee sekondes het aan Coetzee die geeltrui as voorloper van die toer besorg wat hy enduit suksesvol verdedig het.

Alhoewel Dreyer se span die spantydtoets oor 10,4 km in 19:15 ingepalm het en Vorster-hulle tweede in 20:09 was, het dit nie 'n verskil aan die voorloper (Vorster) se posisie gemaak nie. Die Food Lovers Market Ladies se tyd van 20:25 was die derde beste van die dag.

Saterdagoggend se derde skof oor 80 km vanaf die Tony Rust-renbaan na Daan Viljoen en Matchless het genoeg uit­dagings aan die mans en vroue verskaf.

Om sy geeltrui as voorloper van die toer te behou, moes Coetzee sorg dat De Lange hom nie in die heuwelagtige roete afskud nie.

Coetzee het die naelrit by Tony Rust na die eindstreep met 'n paar meter verloor, maar dieselfde tyd (1:58:51) is aan hom en De Lange toegeken wat Coetzee die geeltrui laat behou het. Hahn en Alex Miller in 1:59:34 het vir groot opwinding met hul spoed na die eindstreep gesorg.

Vorster wat die derde skof oor 53 km in 1:33:44 voltooi het, het haar voorsprong met sewe minute teen Dreyer gerek wat tweede in 1:38:13 geëindig het om ­algeheel die vroueafdeling in te palm. Weber met 1:39:22 was die derde vrou oor die ­eindstreep.

Die vierde en laaste skof Saterdagnamiddag by Pupkewitz Megabuild in Julius K. Nyererestraat (die eertydse Lazarettstraat) het nie vir punte of tyd vir individuele ryers getel nie.

Spanne kon vir oulaas die kort roete oor 1,7 km vir punte aanpak. Vroue het vir die kermesse 30 minute plus een ronde gejaag, terwyl die mans 40 minute plus 'n ekstra ronde moes ry.

Vorster het met die kermesse ook nie haar gelyke gehad nie en jaag eerste oor die wenstreep om haar stempel as Namibië se nommer een vrouefietsryer in beide dissiplines (padfiets en bergfiets) af te druk. Gerhard Mans jr. het sy krag met die naelrit na die eindstreep gewys om saam met De Lange klaar te maak.

Die mansspankompetisie is deur Mannie's Bike Mecca Racing (MBM) gewen, gevolg deur Hollard Life en MBM/Lema in die derde plek. By die vroue het Pupkewitz Megabuild geseëvier met MBM tweede en Food Lovers Market derde.



Algeheel

Elite mans: 1 Drikus Coetzee, 2 Tristan de Lange, 3 Hugo Hahn.

Elite vroue: 1 Michelle Vorster, 2 Risa Dreyer, 3 Genevieve Weber.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer