Cloete 'n aanwins vir die Eagles

Min, indien enige plaaslike kandidate is meer verdienstelik as Cloete, wat sy vinger deeglik op die pols van die land se huidige en toekomstige talent het.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Gareth Cloete, afrigter van Ceiling Centre WHS Old Boys, is gister deur Krieket Namibië as leerling-afrigter van die nasionale senior manskrieketspan aangestel.

Die beheerliggaam het onlangs geadverteer vir kwalifiserende aansoekers om vir die volgende twee jaar die adjudant vir Pierre de Bruyn, die huidige hoofafrigter, te wees as deel van die Suid-Afrikaner se nalaten­skapprogram.

In die 42-jarige Cloete het Krieket Namibië raakgevat met een van die mees bekwame en gesoute afrigters op die plaaslike toneel.

Gedurende die termyn van Dee Thakur, De Bruyn se voorganger, het Cloete as nasionale hulpafrigter diens gedoen en die span op twee oorsese toere vergesel. Hy was ook afrigter van die Namibiese vrouespan (2014-2017) en spanbestuurder van die o.19-span wat aan die 2012 Wêreldbeker deelgeneem het.

Vroeër in sy loopbaan het hy Afrikabeker-titels met die Namibiese o.15- en o.17-spanne gewen en was ook afrigter van Namibiese spanne na Krieket Suid-Afrika se Coca-Cola o.19-week.

Mnr. Johan Muller, hoofbeampte van Krieket Namibië, is in sy noppies met Cloete se aanstelling.

“Ons glo daaraan om mense op te hef deur hul vaardighede te verbeter en dié program is presies waaroor dit gaan. Gareth is 'n dinamiese persoon wat reeds vir etlike jare by afrigting betrokke is. Ek is seker daarvan Gareth sal by die nasionale span groei en tot die gehalte van die afrigting bydra,” het Muller gesê.

De Bruyn is ewe ingenome met Cloete se aanstelling by die Eagles.

“Ek is baie opgewonde en positief oor die verwikkeling. Dit is 'n enorme geleentheid vir Gareth om die program te gebruik en as afrigter te groei. Ek sien uit daarna om hom by die span te verwelkom,” het die hoofafrigter gesê.

In sy jong speeldae was Cloete 'n lid van die o.19 Wêreldbekerspan van 1998 in Suid-Afrika. Hy was dus bitter jonk toe hy in 2000 sy eerste treë as afrigter gegee het – en min mense het hul vinger nader aan die pols van Namibië se huidige en toekomstige kriekettalent.

“Daar lê heelwat harde werk vir my voor. Ek is die afgelope 27 jaar by krieket betrokke en sien baie uit na die geleentheid wat ek nou kry. Vir my is dit 'n beloning vir al die harde werk, tyd en passie wat ek oor die jare in die spel ingesit het.

“Om op dié wyse erkenning te kry, is vir my 'n reuse-beloning. Dis 'n voorreg en ek is bereid om hard te werk en my drome na te streef.

“Krieket is 'n groot deel van my lewe en ek is passievol oor die sport. Ek gaan hierdie uitdaging aangryp en skouer aan die wiel sit en wil soveel moontlik teruggee.

“Leierskap beteken om te dien en dit is belangrik vir my om hierop voort te bou en seker te maak dat krieket in Namibië aanhou groei.

“Ek wil my vrou en my familie vir hul ondersteuning bedank. Dit is lang ure, maar ek word heelhartig deur hulle gesteun,” het hy aan Republikein gesê.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer