Claudette laat klippe blom

Elke kleurvolle klip het 'n positiewe boodskap op en dit is presies die doel om bietjie positiwiteit en vreugde te saai.
Tanja Bause
Tanja Bause – Sedert die begin van die jaar kan mense oraloor in Swakopmund kleurvolle klippe met positiewe en opbeurende boodskappe optel en huis toe neem.

Claudette Laborn is die vrou agter dié inspirerende projek. Sy is in Pretoria gebore en getoë. Ná matriek is haar pa na Windhoek verplaas en het die gesin daarnatoe getrek.

“Ek het onderwys gaan studeer en vir die volgende twee jaar skool gegee.”

Sy het vir nog 'n wyle rekenaaropleiding gegee voordat sy haar voete in die privaat sektor gaan vind het.

“In 2007 het ek Swakopmund toe getrek om 'n nuwe begin te maak.”

Aan die begin van die jaar het sy en haar man Sossusvlei toe gery om vriende van Windhoek daar te ontmoet.

“Dit het mos baie gereën en ons wou dit beleef. Die vriendin het my vertel van 'n vrou in Windhoek wat bemoedigende boodskappe en prente teken en dit buite sit sodat mense dit kan vind en hopelik bietjie opgebeur word.”

Terug in Swakopmund het Claudette internetnavorsing gedoen en agtergekom daar is 'n groot “Rock Movement” of “Kindness Rocks” beweging wat tans wêreldwyd ontvou.

“Oral is mense besig om klippe te verf en 'n bemoedigende sin op te skryf en dit iewers buite te sit vir iemand om te vind. Ek het van die idee gehou en besluit dit is wat ek op Swakopmund wil doen. Swakopmund het baie klippe en die gemeenskap is ontvanklik as dit by kuns kom. Ek het van die idee gehou dat ek lukrake dade van vriendelikheid kan versprei en 'n glimlag op iemand se gesig kan sit.”

Sy het in Januarie begin en die eerste 100 klippe is geverf, uitgesit, opgespoor en het reeds eienaars gekry.

“Ek het plakkers laat maak wat ek agterop elke klip plak net om te verduidelik waaroor dit gaan.”



KREATIEWE IDEES

“Ek beskou myself nie as kunstig nie, eerder kreatief. Ek hou daarvan om goed met my hande te maak en kyk YouTube-video's vir idees en raad. Dit gaan nie daaroor om die perfekte kunswerk te skep nie; dit gaan oor die boodskap.”

Claudette tel elke klip self op en versier dit. “Ek skryf 'n boodskap op en skep 'n prentjie rondom dit. Ek hou baie van kolletjiekuns en kolletjiemandalas.”

Sy werk tans voltyds by Swakop Uranium in die menslike hulpbronafdeling. Sy verf en versamel klippe na werk en oor naweke.

“Nog 'n paar mense het begin klippe verf en natuurlik is almal welkom om dit te doen. Ek vra net dat hulle 'n foto op ons Facebook-blad plaas sodat ons weet die projek bly volstoom aan die gang en is besig om te groei. Die mense wat 'n klip opgetel het, is ook welkom om dit te plaas.”

Volgens Claudette is mense deesdae baie hard op hulself en druk die lewe almal, al lyk dit nie op die oog af so nie.

“Mense is veral in die sosiale media aaklig met mekaar en dit is onnodig. Die lewe is moeilik en 'n bietjie vriendelikheid kos niks nie, maar dit beteken so baie vir die ontvanger.”

Elke klip se positiewe boodskap is juis dié gedagte – om 'n bietjie onverwagte vreugde te saai.

“Die idee dat 'n vreemdeling jou dag kan ophelder en dit met 'n klip, is baie kragtig. Ek hoop die projek, Swakop Rocks Kindness, het 'n positiewe invloed op die gemeenskap. Dit is maklik. Verf 'n klip, steek dit weg en spoor 'n klip op. Wanneer jy 'n klip optel, kan jy dit huis toe vat of jy kan dit weer wegsteek vir die volgende persoon om dit ook te kan waardeer.”



'BLY ALTYD ORDENTLIK'

Claudette het 'n Facebook-blad, Swakop Rocks Kindness, gestig wat tans 700 lede het. Op dié blad is boodskappe van mense wat 'n klip opgespoor het en wat dit vir hulle op daardie dag of oomblik beteken het.

“Ek is so bly oor die klip wat ek gevind het. Ek sal dit terug George in Suid-Afrika toe neem,” lui een boodskap.

Nog een: “Baie dankie vir my ontsagwekkende klip. Dit was net wat die dokter sou aanbeveel het. Ek sal dit vir 'n paar dae hou en dan weer vir die volgende persoon wegsteek sodat iemand anders se dag ook opgehelder kan word.”

“Dit is die lekkerste gevoel om so 'n klip te vind. Baie dankie, Swakop.”

Claudette sê: “Kom ons dink voordat ons praat of iets in die sosiale media plaas. Wees menslik en ordentlik, maak nie saak met wie of wat nie. Of dit nou 'n kassier in 'n winkel is of iemand wat jy bietjie beter ken, almal het nodig om raakgesien en waardeer te word.”

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A