Citi Dash mik nóg groter

’n Stelselmatige oefenprogram met ’n formidabele afrigter kan as deel van die pakket ingesluit word.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Nedbank Namibië het sy aanbieding van die 2020 Nedbank Citi Dash padwedloop bekendgestel wat vir die oggend van Sondag 6 September in die hart van Windhoek geskeduleer is.

Die goeie ding wat deur die uitstel van vanweë Covid-19 teweeg gebring is, is dat die nuwe datum in die lente nie so ’n koue oggend behoort te wees as verlede jaar nie, het die bank se finansiële hoof, mnr. JG van Graan, by die bekendstelling gesê.

Verlede jaar het ’n puik getal van 2 500 drawwers en stappers vir ’n heuglike dag van deelname gesorg, maar die organiseerders streef om hierdie mylpaal selfs verby te steek, met hul verklaarde afsnypunt 3 500 deelnemers.

“Al die elemente wat verlede jaar so ’n uitsonderlike byeenkoms op die nasionale hardloopkalender gemaak het, sal grootliks behoue bly,” het hy gesê.

Die wedloop wat daarop gerig is om Namibië se hardlooptalent op die voorgrond te plaas, se roete sal atlete op ’n roete heen en weer in Onafhanklikheidslaan neem, met die Zoo Park as begin- en eindpunt.

Ernstige hardlopers wat om prysgeld wil meeding, kan vir die elite 10 km hardloop inskryf (inskrywingsgeld N$250).

Hierbenewens is die opsies van 5 km of 10 km draf of stap vir enigiemand beskikbaar, met die koste van inskrywing N$60 vir beide afstande.

Inskrywings sal vanaf volgende week aanlyn by www.today.com.na gedoen kan word.

“Net soos in die vorige twee weergawes, bied die Nedbank Citi Dash ’n wonderlike geleentheid om mense van elke sektor byeen te bring. Nedbank bied dus weer die uitdaging aan besighede en skole om spanne in te skryf, met ’n afslag van net N$40 per persoon toegeken aan spaninskrywings van 30-plus,” sê Van Graan.

Lindsey Parry, die amptelike afrigter vir hardlopers wat hulle jaarliks op die Comrades-marathon wil voorberei, se dienste is net soos verlede jaar ook tot die beskikking van elkeen wat die Nedbank Citi Dash oorweeg.

Parry se kennis en ondervinding as een van die vasteland se voorste kenners is welbekend. Hy het ’n bewese vertoningsrekord as afrigter van Suid-Afrika se Olimpiese en Statebond-hardlopers, maar ewe doeltreffend om besige mense met beroepe en gesinne, van verskillende ouderdomme en vlakke van erns, te help om hul persoonlike doelwitte te bereik.

Belangstellendes kan op coachparry.com vir die hoogs spesiale afslagprys van N$50 in aanmerking kom indien hulle inskryf.

Medeborge van die Nedbank Citi Dash sluit in Indongo Toyota, Namibia Health Plan (NHP), Coca-Cola en Olympia Optics.

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer