Chucky in binnebaan by Cheetahs
Chucky in binnebaan by Cheetahs

Chucky in binnebaan by Cheetahs

Rugby
Sodra die Curriebeker-reeks na verwagting binne enkele weke 'n aanvang neem, kan die Namibiese haker Louis van der Westhuizen hom straks as die eerste keuse vir sy nuwe provinsie, die Vrystaat Cheetahs, bevind.

Ná die ongelukkige besering van Wilmar Arnoldi laas naweek, behoort Van der Westhuizen as die Currie­beker-kampioenspan se enigste ander spesialis-haker nou in die binnebaan vir die nr. 2-trui te wees.

Owen Kock van Netwerk24 berig Arnoldi het Saterdagaand 'n operasie ondergaan om sy gekraakte wangbeen te herstel, nadat hy dit vroeër die dag tydens 'n kontaksessie van die Cheetahs in Bloemfontein beseer het.

“Ja, dis 'n groot frustrasie, maar ek kan ten minste oor 'n week of wat weer in die gimnasium begin werk en hardloop, dis nie asof ek 'n been of arm gebreek het nie. Dis deel van die spel en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie,” het Arnoldi gesê.

Die 25-jarige Van der Westhuizen het hom in Meimaand by die Vrystaters aangesluit, nadat hy vroeg vanjaar eintlik 'n nuwe begin by die Blou Bulle sou maak. Dit was egter voordat Jake White daar as afrigter aangestel is en dié unie se lys van gekontrakteerde spelers 'n grootskaalse omwenteling ondergaan het.

Van der Westhuizen, wat Namibië in die laaste twee Wêreldbekers en in altesame 21 toetse sover verteenwoordig het, en Arnoldi het tevore lank saam vir die Pukke in die Varsitybeker, asook vir die Luiperds in die Curriebeker gespeel.

Arnoldi, tevore ook 'n Griekwas-speler, sê: “Ons het genoeg diepte met Chucky (Van der Westhuizen) en Geiser (Reinach Venter) en hulle sal die beste in mekaar na vore bring. Ongeag die mededinging, is almal in die groep eintlik maar vriende en gee mekaar raad en help ons waar ons kan.”

Arnoldi kan vir tot drie maande op die kantlyn wees, maar behoort Vrydag 'n beter aanduiding te kry hoe lank sy herstel en rehabilitasieproses sal wees wanneer hy weer 'n spesialis sien.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat gesprekke tussen die Cheetahs en die Southern Kings gevoer is oor die dienste van die voormalige Cheetah-haker Jacques du Toit, wat deesdae sy rugby vir die Port Elizabeth-franchise speel.

Du Toit het hope ervaring op Curriebeker- en Pro14-vlak, wat hom die ideale korttermyn-plaasvervanger vir Arnoldi kan maak.

Met die Kings wat nie weer vanjaar rugby gaan speel nie, sal Du Toit gretig wees om speeltyd te kry en daarby is hy vertroud met Cheetah-rugby.

Reinach Venter of Marnus van der Merwe, wat onderskeidelik na flank en stut geskuif is, kan hulle ook terug op haker bevind.

Die Cheetahs se Namibiese Wêreldbeker-stut Aranos Coetzee het Saterdag 'n enkel beseer, wat egter nie te ernstig blyk te wees nie.

As voorsorgmaatreël sal Coetzee na verwagting 'n blaaskans gegun word wanneer die Cheetahs Vrydag weer teen mekaar speel ter afsluiting van hul tweede week van kontakoefeninge.

Die Cheetahs beplan twee oefenwedstryde teen Griekwas – op 26 September in Kimberley en ses dae later in Bloemfontein.

– Verwerk van Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer