Chinese kla
Chinese kla

Chinese kla

Die adjunkminister gooi wal oor die Namibiese Kamer van die Omgewing se ope brief.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die Chinese ambassadeur, mnr. Qui Xuejun, het sy ontevredenheid met die Nambiese Kamer van die Omgewing (NCE) uitgespreek.

Dít tydens 'n vergadering met die adjunkminister van die omgewing en toerisme, mnr. Tommy Nambahu.

Die vergadering, op 25 Januarie, volg nadat Qui 'n kla-brief aan die ministerie geskryf het nadat die NCE sy kommer oor wildmisdade deur Chinese burgers uitgespreek het.

In Qui se brief aan die ministerie sê hy die NCE se ope brief was vol “bespiegelinge en onredelike beskuldigings teen Chinese burgers en die ambassade”.

Die NCE het die ope brief op 21 Desember aan die Chinese ambassade oorhandig en op 4 Januarie 'n vergadering met die Chinese ambassadeur en diplomatieke lui gehad. Die uitvoerende hoof van die NCE, dr. Chris Brown, het gister aan Republikein gesê die NCE staan by sy ope brief.

Qui het glo aan Nambahu gesê dat Brown ná samesprekings ingestem het om die ope brief van die NCE se webtuiste te verwyder.

“Die NCE het die ope brief vervang met 'n verklaring oor ons vordering ná ons vergadering met die Chinese ambassade,” het Brown gesê.

“Om die brief van ons webtuiste te verwyder, beteken nie ons staan terug vir die inhoud van die brief nie. Dis eerder 'n gebaar van welwillendheid en toewyding om saam te werk om kommersiële wildmisdaad te stop.”



'INHOUD VAN BRIEF OPRUIEND'

Nambahu het die goeie betrekkinge tussen China en Namibië beklemtoon en meen die NCE-brief kan “'n negatiewe impak” op die goeie betrekkinge­ tussen die twee nasies hê.

Nambahu het aan Qui beklemtoon dat die brief deur 'n nie-­regeringsorganisasie (NGO) geskryf is en dat die sieninge nie dié van sy ministerie of die regering is nie. “Die inhoud van die brief is opruiend en voorspel niks goeds vir ons geskied­kundige betrekkinge nie,” het die ­adjunkminister gesê.

Volgens Nambahu is hy ten gunste van vryheid van spraak, maar hy doen 'n beroep op NGO's en individue teen stropery om sensitief te wees met hul taalgebruik en om nie wilde stellings teen sekere nasionaliteite te maak nie.

Brown sê Namibië is gelukkig om die reg op vryheid van spraak te hê en “soms is dit makliker vir NGO's as vir die regering om die waarheid oor 'n situasie te praat”.

Hy sê die NCE verstaan die regering se moeilike rol.

Nambahu het gesê wildstropery word nie op regeringsvlak uitgevoer nie, maar is misdade wat deur individue uitgevoer word.

“Qui het gesê hoewel Chinese burgers by misdaad betrokke is, is nie alle Chinese slegte mense nie en die Chinese regering is sterk gekant teen misdaad,” het Nambahu gesê.



SAMEWERKING

Die ministerie het 'n Chinese eweknie uitgenooi om deel te wees van die teenstropery-veldtog in Namibië.

Brown sê die NCE het aan die ambassadeur 'n sewe-punt-konsepplan gegee en die Chinese sal dit hersien en met idees vorendag kom om die pad vorentoe te bespreek.

“Die Chinese Nuwejaar is verby en die NCE sien uit daarna om met die Chinese ambassade saam te werk.”

Die NCE aanvaar ook die ambassadeur se voorreg om ander belanghebbendes buite die voorgestelde plan te betrek. Brown meen eerder as om die een sektor teen die ander af te speel, moet alle belanghebbendes wat kommersiële wildmisdaad wil beveg, saamwerk. Dit sluit in die Namibiese regering, die burgerlike samelewing (NGO's en private sektor), die Chinese ambassade en die regering.

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer