Chinese glo met pangas aangeval, beroof
Chinese glo met pangas aangeval, beroof

Chinese glo met pangas aangeval, beroof

Francoise Steynberg
Vier Chinese burgers is glo Vrydag omstreeks 11:00 in Hidipo Hamutenyastraat op Swakopmund deur drie mans met pangas aangeval en van hul besittings beroof.


Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die Chinese van hul rugsakke met klere in, asook kontant van N$55 150 beroof.

“Die vier Chinese burgers wat by Husabmyn werk, is glo deur drie onbekende mans in die straat genader wat uit ’n silwer Toyota Corolla-taxi gespring en hulle glo met pangas aangeval en beroof het,” lui die verslag.

“Die verdagtes het glo weer in dieselfde taxi gespring en in die rigting van Mondesa gejaag. Hulle is deur Protech Securities en polisielede agternagesit.”

Volgens die polisie het die taxi tydens die jaagtog teen ’n sinkhuis in Angelina Muharukastraat in Mondesa vasgejaag waar die drywer in hegtenis geneem is en drie ander verdagtes op die vlug geslaan het.

Die eienaar van die sinkhuis is in die botsing beseer en is volgens die polisie na die Swakopmund-staatshospitaal vir mediese behandeling geneem.

“N$49 150 kontant en gesteelde items is gevind, maar N$6 000 word nog vermis. Die slagoffers wou nie ’n klag aanhangig maak nie. Slegs ’n saak van roekelose en nalatige bestuur is by die polisie geregistreer,” sê die polisie.

Die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer