Chinees pleit skuldig oor ietermagôvel
Terwyl nóg ''n buitelander gevonnis is vir die onwettige besit van beheerde wildprodukte, het Chinese sakelui in Namibië hul samewerking aan die polisie beloof.
Francoise Steynberg
'n Chinese man wat met 'n ietermagôvel in sy besit betrap is, het onlangs in die landdroshof in Katima Mulilo skuld erken.
Zheng Tiqiang (36) is deur landdros Vincent Nzaca tot vyf jaar gevangenisstraf of 'n boete van N$20 000 gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op 'n klag van die besit van beheerde wildprodukte. Me. Dina Khama het vir die staat verskyn.
Volgens die Namibiese polisie is Zheng vasgevat nadat hulle inligting van die publiek ontvang en 'n sakeperseel op die dorp deursoek het.
Voorts het mnr. Ye Zhiwei, die Chinees wat op 23 November met 18 renosterhorings deur die skandeerders van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geglip en op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg vasgetrek is, verlede Dinsdag weer in die hof in Kemptonpark verskyn.
Hy is weer borgtog geweier en bly in aanhouding, volgens kapt. Carol Mulamu van die Valke. Ye se verhoor is tot 17 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.
CHINESE SAKELUI EN POLISIE BYEEN
Die Chinese sakegemeenskap het verlede Donderdag 'n vergadering met die Namibiese polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, en van sy senior beamptes in die hoofstad gehad.
Die adjunkhoof van die Chinese ambassade, mnr. Wei Wu, die president en visepresident van die Namibiese Chinese sakekamer, onderskeidelik mnre. Jindan Lin en Jack Huang, en Chinese sakelui het hul samewerking aan die polisie beloof om misdaad, veral stropery, vas te vat.
“Die Chinese ambassade skenk aandag aan die onlangse nuus van Chinese verdagtes wat betrokke is by die smokkel van produkte van beskermde spesies. Ons veroordeel hierdie soort misdaad ten sterkste,” het Wei gesê.
“Ons sal nie toelaat dat individuele Chinese oortreders die goeie beeld van Chinese burgers in Namibië skaad nie.”
Ndeitunga het gesê dat internasionaal georganiseerde misdaadsindikate beide Namibië en China beïnvloed, dat dit uit misdadigers van verskillende lande bestaan en hulle in solidariteit werk om die ekonomieë van verskillende lande te destabiliseer.
“Honderde polisiemanne is in die Etosha en Bwabwata Nasionale Park gestasioneer wat daagliks duisende Namibiese dollar kos om ons beskermde spesies soos renosters en olifante te bewaar,” het Ndeitunga gesê.
Hy het gevra hoe het die Chinese draer van 18 renosterhorings onder die oë van die polisie op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako deurgeglip, maar die Suid-Afrikaanse polisie dit in Johannesburg opgemerk het.
“Die feit is dat die Chinese draer deur iemand in jul sakegemeenskap genooi is. Waarom nooi julle misdadigers hierheen? Hoeveel misdadigers is al na Namibië genooi wat 'n misdaad gepleeg het en daarmee weggekom het?” het Ndeitunga gevra.
“Wanneer ons julle ondervra, vertel julle stories dat julle hom nie ken nie. Vertel eerder vir ons die waarheid.”
Ndeitunga het gesê hy is bitter teleurgesteld in Namibiërs wat as stropers vir Chinese kopers opgetree het.
“Ek is nie vandag hier om enigiemand in die verleentheid te stel nie. Dit is die minderheid wat die goeie naam van die Chinese mense skaad,” het Ndeitunga gesê. Hy het 'n beroep op Chinese sakelui gedoen om die wette van die land te eerbiedig en misdaad te rapporteer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie