Chappell: ‘Verbied omgekeerde houe’

Krieket
Staak hierdie omgekeerde houe in krieket, sê die gewese Aussie-kaptein Ian Chappell.
Die Aussies het twee reusetellings opgestapel in hul eerste twee eendagwedstryde teen Indië en in albei wedstryde het verskeie Aussies omgekeerde houe gespeel.
Glenn Maxwell en David Warner is veral lief vir dié houe, wat Kevin Pietersen van Engeland vervolmaak het. ’n Omgekeerde hou is wanneer ’n linkshandige kolwer, net wanneer die bouler die bal aflewer, homself omdraai om as ’n regshandige kolwer te kolf en vice versa.
Dit maak dit vir die bouler baie moeilik om die bal in ’n goeie gebied te plant, want ’n aflewering wat ’n regskolwer sal uitdaag, is soms kanonvoer vir ’n hotklou en omgekeerd.
“Ek sal liewer ’n goeie tweestryd wil sien as kolf-skouspelle,” het Chappell aan Wide World of Sports gesê.
“Die Australiese kolwers was uitstaande. Hulle laat dit baie maklik lyk, veral (Steve) Smith en Maxwell. Van die houe wat hy speel, is moeilik om te glo.
“Omgekeerde houe verg baie vaardigheid, maar dit is nie regverdig nie. Hoe kan dit wees dat boulers vir die skeidsregters moet sê hoe hulle gaan boul – oor of om die paaltjies – maar die kolwer mag slag neem as ’n regshandige, die veldwerk-kaptein doen sy veldplasing dienooreenkomstig, en dan voor die bal afgestuur word, word die kolwer ’n linkshandige?”
Hy reken die spelers moet dit nie duld nie.
“As ek die kaptein was wat veldwerk gedoen het, sou ek my bouler aansê om vir die skeidsregter te sê hy gaan oor die paaltjies boul, maar dan wanneer hy inhardloop, boul hy om die paaltjies.”
As die skeidsregter dan daaroor kla, sal Chappell sê hy moet eers vir die kolwer sê om “op te hou iets doen wat heeltemal onregverdig is”.
Chappell sê dis baie eenvoudig: Omgekeerde houe moet as ’n onwettige hou verklaar word.
Maxwell sal hom waarskynlik nie veel aan Chappell steur nie en Woensdag weer probeer om Indië in die derde en laaste T20-kragmeting met omgekeerde houe te kasty.
Warner, aan die ander kant, sal die wedstryd op die televisie moet dophou. Hy het ’n liesbesering in die tweede eendagwedstryd opgedoen en sal die res van die witbalreeks, wat ’n T20-reeks insluit, misloop.
Marnus Labuschagne, wat Sondag 70 lopies van 61 balle in die nr. 4 posisie aanteken het, sê hy sal graag as aanvangskolwer diens doen as hy benodig word.
“Hy (Warner) het ’n enorme rol in ons wen van die reeks gespeel en dit is nie goed om hom te verloor nie, maar dit bied aan iemand anders ’n geleentheid,” sê Labuschagne.
“Beslis, as ek gevra word om die kolfwerk te begin, sal ek die geleentheid aangryp en dit geniet. Maar ons moet wag en sien.”
– Reuters


FOTO’S
Marnus Labuschagne sê hy is gereed om moontlik die Aussies se kolfbeurt te begin in die derde eendagwedstryd teen Indië. Foto Getty Images

Ian Chappell glo omgekeerde houe in krieket moet verbied word. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer