CHAN-kandidate hou kamp in Tunisië

Die voorlopige spelersgroep sal oor die komende dae uitgedun word tot die finale 23-tal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ricardo Mannetti, hoofafrigter van Namibië se senior nasionale span, het gister sy oefengroep van 31 spelers vir die naderende Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) in Marokko aangekondig.

Net 23 spelers sal vir die Tafel Lager Brave Warriors gekies word wat vroeg in die nuwe jaar na Marrakesj vir die eerste groepwedstryd op 14 Januarie teen die Ivoorkus vertrek. Vier dae later wag ’n wedstryd teen Uganda, voor die laaste groepbotsing teen Zambië op 22 Januarie.

Namibië het nog nooit tevore deelgeneem aan dié toernooi uitsluitlik vir spelers wat in elke land se binnelandse ligas in aksie is nie.

Die sestien spanne is in vier groepe verdeel en die wenner en naaswenner van elke groep sal die groepfasie oorleef. Die kwarteindstryde word op 27 en 28 Januarie in Agadir, Casablanca, Marrakesj en Tangier afgehandel, waarna die semifinale in Marrakesj en Casablanca gespeel word. Die eindstryd word op 4 Februarie in die Marrakesj-stadion aangebied.

Manetti sal sy voorlopige rou materiaal voor hul vertrek na Tunisië tydens ’n oefenkamp tot 28 verminder.

“Ons sal min of meer vir twee weke in Tunisië wees waar ons drie wedstryde ter voorbereiding gaan speel. Ek sal die finale 23-tal vir Marokko vanuit Tunisië aankondig, waarna ons na die 2018 CHAN-toernooi sal vertrek.

Sommige van die breier se staatmakers se fiksheid is egter tans nie op peil nie en moet nog mediese toetse slaag.

“Benyamin Nenkavu van Tigers sukkel met ’n kniebesering en ons sal toetse moet uitvoer om te sien of hy kan saamgaan. Ek het grootliks by my beproefde groep van die afgelope ses wedstryde gehou, maar ook nuwe bloed ingebring om diepte in sekere posisies te kry,” het Mannetti verduidelik.

Die spankaptein Ronald Ketjijere sê hulle is gereed vir Marokko.

“Die mense verwag resultate van ons en as kaptein moet ek my bes doen en opofferings maak. Ons wil nie die druk op ons plaas nie, maar wel op die ander spanne sodat die ouens hul ware talent ten toon kan stel,” het Ketjijere gesê.

Die oefengroep is:

Doelwagters: Edward Maova (Civics), Charles Uirab (Unam), Loydt Kazapua (African Stars), Calvyn Spiegel (Chief Santos).

Verdedigers: Ferdinand Karongee (Tigers), Kennedy Eib (Chief Santos), Tjuana-Tja Tjinotjiua (African Stars), Dynamo Fredericks (Black Africa), Hubert Mingeri (Life Fighters), Charles Hambira (Tura Magic), Riaan !Hanamub (Orlando Pirates), Emilio Martin (Black Africa), Tiberius Lombard (Tura Magic).

Middelveldspelers: Edmund Kambanda (Unam), Vitapi Punyu Ngaruka (Black Africa), Gregory Auchumeb (Blue Waters), Immanuel Heita (Black Africa), Oswaldo Xamseb (Tura Magic), Penda Mangudhi (Young Chiefs), Ronald Ketjijere (African Stars), Wangu Batista Gome (Civics), Petrus Shitembi (Tura Magic), Absalom Iimbondi (Tigers), Jackson Johannes (Young Chiefs), Himezeembi Hengombe (Young African).

Voorspelers: Muna Katupose (Unam), Roger Katjiteo (Tigers), Junias Theophilus (Tura Magic), Panduleni Nekundi (African Stars), Hendrick Somaeb (Blue Waters) en Kleophas Useb (Life Fighters).

Die loting vir die CHAN-toernooi:

Groep A: Marokko, Guinee, Soedan, Mauritanië. Groep B: Ivoorkus, Zambië, Uganda, Namibië. Groep C: Libië, Nigerië, Rwanda, Ekwatoriaal-Guinee. Groep D: Angola, Kameroen, Kongo, Burkina Faso. - NFA.org.na

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer