Cedar vir sade, plante en moere

‘n Landboubemarker op Grootfontein het ‘n antwoord op die vraag na dierevoer.
Augetto Graig
Augetto Graig - Dierevoer is duur.

“Dit bly altyd die goedkoper opsie om jou diere met jou eie voer te voer,” is mnr. Johan Louw van Cedar Marketing se oplossing daarvoor.

Cedar Marketing is 'n landbouonderneming op Grootfontein wat fokus op die verkoop van aartappelmoere, weidings-, dek- en voergewasse. Die onderneming voer ook avokado-, mango- en selfs lietsjiebome in.

“Die saadmark ontwikkel tans baie sterk aangesien al hoe meer boere hul eie voer wil produseer. Uiteraard is dié voer afhanklik van besproeiingswater, maar ook normale reënval waar dit voldoende is vir aangeplante weiding. Dit sluit onder meer in lusern- en sorghumsaad, soetsorghum, pearl millet, akkerbone, Dolichos en voerbeet, asook voer- en kuilvoermielies,” sê Louw.

Cedar Marketing voer sedert 2011 gesertifiseerde aartappelmoere in en dit het bygedra tot die verdere ontwikkeling van die Namibiese aartappelbedryf wat in daardie stadium deur drie plaaslike boere bedryf is, volgens Louw.

As saadhandelaar vir Wesgrow, tans die grootste produsent van gesertifiseerde moere in Suid-Afrika, poog Cedar Marketing om die Namibiese mark minder afhanklik van invoeraartappels te maak, sê hy.

Die moere word in 'n laboratorium op Christiana in Suid-Afrika gekweek wat die grootste produsent van gesertifiseerde generasie 0-miniknolle in Afrika is, en ook een van die grootstes ter wêreld, volgens hom.

“Sowat 70% van alle aartappels wat aan Suid-Afrikaanse markte gelewer word, kom van Wesgrow-kultivars. Cedar Marketing gebruik die kennis van 'n Wesgrow-landboukundige wat net gefokus is op aartappelproduksie. Ongeveer 70% van plaaslike aartappels word steeds vanuit Suid Afrika ingevoer,” sê Louw.

Dit is dieselfde geval wat betref weidingsgewasse, waaronder Bloubuffel-, Borseltjie-, Smutsvinger-, Teff- en Rhodesgrassaad, volgens Louw.

“Dekgewasse se hoofsaaklike doel is om jou grond op 'n natuurlike manier te verbeter. Dit kan terselfdertyd as 'n voer gebruik word as deel van 'n rotasieproses in die voedselbehoeftes van die diere,” sê hy.

Barenbrug, 'n internasionale maatskappy, word as hoofverskaffer gerugsteun deur weidingskundiges en voorraad vanuit Suid-Afrika, volgens Louw.

Hy sê Cedar Marketing is ook die Namibiese agent vir die Suid-Afrikaanse verskaffer Agricol, wat onder meer spesialiseer in mielie- en kuilvoergewasse.

Cedar Marketing spreek daarbenewens die groeiende behoefte in die wêreldwye vraag na avokado’s aan.

“Daar is eersdaags 9 000 avokadoplante op pad van Suid-Afrika, asook 3 000 mangoplante vir 20 kliënte hoofsaaklik in die noorde van Namibië,” sê Louw.

Dié verwikkelinge spruit uit 'n besoek van Suid-Afrikaanse bedryfskenners aan Namibië waarna ‘n plaaslike span op hul beurt na Tzaneen in die buurland toe is. Daar was hulle met uitvoerders in gesprek, en het ook avokado- en mangoboorde besoek, sê Louw.

“Cedar Marketing is gretig om die Namibiese boer van saad, moere of plantjies te voorsien aangesien daar meer as genoeg geleenthede vir Namibiërs is om self hierdie kommoditeite te produseer.”

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer