CCD-klub opgeknap vir Thakur

Krieket
Andrew Poolman
Die krieketklub CCD Tigers se bestuur het laas naweek die finale reëlings afgehandel ten opsigte van die nalatenskap van sy gewese afrigter Dee Thakur, wat in Juliemaand aan Covid-19 gesterf het.

Ondanks die voorneme om op die klubterrein in Pionierspark altesame 54 bome aan te plant – een vir elke lewensjaar van Thakur – was daar ongelukkig nie genoeg spasie vir dié getal nie.

Nogtans is altesame 27 bome aangeplant.

Die oorskot van die donasies wat vir dié doel ontvang is, is aangewend om 'n spesiale rusbankie op te rig. Nog 'n afdak by die kleedkamer word ook eersdaags beplan.

Die gewilde Thakur, 'n voormalige afrigter van nasionale spanne op senior en ouderdomsvlakke, het oor meer as twee dekades diep spore in die sport getrap.

Sy weduwee Natasha en haar twee seuns was by die amptelike onthulling van die nuwe Dee Thakur-laan, die toegangspad van die klubperseel.

Beide Natasha en Polly Negongo, president van CCD-klub, se boodskappe was treffend en die trane het maar vlak gelê.

Die klubbestuur bedank elke donateur en ondersteuner van die projek om die aansig van CCD Tigers se tuiste te verfraai en die fasiliteite op te knap.

CCD het Saterdag ook sy jaarlikse prysuitdeling gehou.

Nicol Loftie-Eaton (186 lopies en 22 paaltjies) is die premierligaspeler van die seisoen en voorste bouler, terwyl Stephen Baard as die topkolwer bekroon is vir sy 339 lopies in die premierliga.

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer