Caster se 2019-seisoen in gedrang
Atletiek
Wim Pretorius
Al het die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) besluit om sy sogenaamde Caster-reël nou eers vanaf Maart 2019 van krag te maak, kan Caster Semenya, die Suid-Afrikaanse Olimpiese kampioen in die 800 m, steeds die grootste deel van volgende jaar se atletiekseisoen misloop.
Die IAAF het Dinsdag aangekondig dat dié reël, waarvolgens internasionale vroueatlete in die 400, 800, 1 500, 400-hekkies en die myl se testosteroonvlakke vir minstens ses maande onder 5 nmol/L moet wees, nie meer op 1 November in werking sal tree soos aanvanklik beplan is nie.
Die IAAF meen die besluit sal die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) kans gee om finaal oor die kwessie te beslis. Semenya en Atletiek Suid-Afrika het 'n klag by dié hof ingedien en wil hê die reël moet ongeldig verklaar word.
Indien CAS egter nie ten gunste van Semenya beslis nie, sal dié atleet se seisoen in die gedrang wees. Die rede hiervoor is dat atlete soos Semenya vanaf 26 Maart, wanneer die nuwe reël van krag sal word, eers vir 'n tydperk van ses maande aan die nuwe vereistes moet voldoen voor hulle weer mag deelneem.
Dít beteken dat Semenya se eerste wedloop daarna eers op 27 September kan plaasvind – 'n enkele dag voor die IAAF se Wêreldkampioenskap in Doha in Katar begin.
Sy is die heersende wêreldkampioen in die 800 m en het in 2017 ook die bronsmedalje in Londen in die 1 500 m gewen. Semenya sal in so 'n geval ook die hele Diamantliga-reeks misloop wat op 3 Mei in Doha begin en op 6 September eindig. Sy is in dié reeks ook die verdedigende kampioen in die 800 m.
Semenya en ASA is vol vertroue dat CAS die omstrede IAAF-reël ongeldig sal verklaar.
Stéphane Bermon, direkteur van die IAAF se gesondheids- en wetenskap-departement, het in 'n brief aan die atletiekorganisasie se lede geskryf hulle wou juis die reël in November van krag maak sodat daar genoeg tyd vir geaffekteerde atlete sou wees om steeds aan die buitenshuise seisoen in die aanloop tot die Wêreldbyeenkoms deel te neem.
“CAS het nou aangekondig dat die IAAF se nuwe regulasies effektief opgeskort is hangende die uitslag van die appèl,” sê ASA Woensdag in 'n verklaring.
CAS het die aanbeveling gemaak dat die saak van 18 tot 25 Februarie in Lausanne of Genève, Switserland, aangehoor moet word.
“ASA se appèl sal op verskeie kwessies fokus insluitende die diskriminerende impak wat die reël op vroueatlete soos Semenya sal hê,” sê ASA.
“Die Suid-Afrikaanse regslui sal ook aanvoer dat die mediese data waarop die IAAF staatgemaak het foutief is.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie