Caster-regspan berei voor vir volgende stryd
Atletiek
Wim Pretorius – Is daar nog ’n kinkel in die Caster Semenya-sage?
Atletiek Suid-Afrika (ASA) wil voortgaan met nóg ’n poging om Wêreldatletiek se regulasies rakende vroue met natuurlike hoë testosteroonvlakke tersyde te stel wanneer hy die Europese hof vir menseregte nader.
Semenya, die tweemalige Olimpiese 800 m-kampioen, en ASA se appèl teen die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) se beslissing in die guns van Wêreldatletiek se regulasies, is verlede maand deur die Switserse federale hooggeregshof van die hand gewys.
Dit beteken dat Semenya voortaan medisyne moet gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag indien sy haar Olimpiese titel volgende jaar in Tokio in haar voorkeurnommer wil verdedig. Ditto as sy aan die 400, 400-hekkies, 1 500 en myl wil deelneem.
Aleck Skhosana, ASA-president, sê die plaaslike beheerliggaam is steeds oorgehaal om Semenya verder te verdedig, maar dat hy eers terugvoering vanaf die regering moet kry oor watter stappe volgende gedoen moet word.
“Dit bly steeds ’n besluit tussen die regering en ASA, net soos toe ons die CAS en die Switserse federale hooggeregshof genader het,” het Skhosana by navraag gesê.
“Ek het eergister (Woensdag) met die regering gepraat en hulle gaan nou kyk na al die faktore wat van toepassing sal wees, soos die koste.
“Dit bly egter ons voorneme om die saak verder te voer, want dit is ’n skending van menseregte.”
Semenya se prokureur, Gregory Nott, is self tans besig om voor te berei om die Europese hof vir menseregte te nader, ofskoon Semenya die laaste sê het oor of hulle die stryd moet voortsit.
“Dit was nie ’n algehele verrassing nie,” het Nott oor die Switserse federale hooggeregshof se beslissing in ’n onderhoud met AFP gesê.
“Caster het, soos gewoonlik, die nuus baie goed hanteer. Sy is ook gereed om verder te baklei.”
ASA het ’n enkele dag ná die Switserse hof se uitspraak reeds aangedui dat hy dit sal oorweeg om die Europese hof vir menseregte te nader.
Nott sê dat Semenya se regspan hom ook nou staal vir die volgende ronde, ’n proses wat hulle nog “ ’n paar maande” kan neem.
Semenya sal dan moet besluit of sy wil voortgaan om die regulasies uit te daag, met die Suid-Afrikaner wat reeds aangedui het dat sy in 2021 ’n aanslag in die 200 m gaan loods in die hoop om vir die Tokio-Spele te kwalifiseer. Die korter naellope is nie onderhewig aan Wêreldatletiek se testosteroon-regulasies nie.
“Ons is bloot die perd, en sy is die jokkie, so ons luister na wat Caster te sê het,” het Nott bygevoeg.
Nott en Semenya se pad het al meer as ’n dekade gelede die eerste keer gekruis.
Hy het Semenya bygestaan toe sy as 18-jarige die eerste keer verbied is om teen ander vroue mee te ding.
– Netwerk24
FOTO
Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, wil die Europese hof vir menseregte nader. Fot: Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie