Cash: Leeus moet Saterdag tempo bepaal
Rugby
Marizanne Kok – Die Leeus se afrigter, Ivan (Cash) van Rooyen, hoop sy voorspelers se tonge sleep Saterdag wanneer hy hul plaasvervangers ná 50 of 60 minute op die Bulle loslaat.
“Dan sal ons weet almal het behoorlik ingeklim en hul deel gedoen,” het Van Rooyen Donderdagmiddag gesê.
Die Leeus pak hul Gautengse bure Saterdagmiddag op Loftus Versfeld vir die tweede keer in soveel wedstryde, en het geleer uit hul vorige besoek, toe hulle hul enigste nederlaag van die Curriebeker-reeks se groepfase gely het.
“Die groot les uit daardie wedstryd was dat ons die Bulle toegelaat het om die tempo van die wedstryd te dikteer,” sê Van Rooyen.
“Hierdie naweek moet óns die tempo bepaal, met en sonder die bal in die hand.”
Die Johannesburgers het drie veranderinge gemaak aan die beginspan wat Saterdag anderkant die Jukskei-rivier hul tweede agtereenvolgende Curriebeker-eindstryd gaan probeer haal.
Die senter Wandisile Simelane is terug in die beginspan nadat hy in die vorige wedstryd op die bank was en Jaco Kriel neem die nr. 6-trui terug nadat dit laas om Marnus Schoeman se skouers was.
In die voorry sal Sti Sithole op loskopstut sak nadat hy ten volle herstel het van die borsspierbesering wat hy verlede maand opgedoen het.
Sithole het in die Leeus se laaste wedstryd van die bank af gekom, onder omstandighede waaroor Van Rooyen en sy kaptein, Elton Jantjies, in Donderdag se nuuskonferensie simpatiek gegiggel het.
“Sti was in die groot groep vir daardie wedstryd, maar omdat hy pas teruggekom het van sy besering het ons hom die Maandag en Dinsdag (voor die Woensdag-stryd teen die Bulle) hard geslaan met fiksheid. Ongelukkig het Carlü (Sadie) in die opwarming ’n stywe rug gehad, sodat ons Sti moes optrek na die plaasvervangersbank. Hy moes toe maar daai laaste 20, 30 minute speel,” het Van Rooyen met ’n grinnik vertel.
Sithole het darem sedertdien twee en ’n halwe weke gehad om van daardie nare verrassing te herstel. Dié keer sal hy veel meer uitgerus langs Jaco Visagie en Jannie du Plessis sak, aangesien Dylan Smith met ’n dyspierbesering sukkel. Saam het dié trio hierdie seisoen reeds ’n paar voorrye laat kreun.
Jantjies is gevra of die span ná ’n lang veldtog, wat vier Superrugby Unlocked- en ses Curriebeker-wedstryde ingesluit het, begin wens vir die seisoen om klaar te maak.
Hy het laggend geantwoord die teendeel is waar.
“Ons wil nie hê die seisoen moet eindig nie,” het hy gesê. “Ons het vir baie maande nie rugby gespeel nie en vandat ons weer begin het baie dinge uitgestryk en ál beter geraak. Ek voel regtig die ouens het begin eienaarskap neem van wat hulle op die veld doen en hoe hulle op dinge reageer.
“Jy kan fisiek en emosioneel uitgemergel raak en ’n punt bereik waar jy voel jy’s nou te veel op die oefenveld of te veel by die huis, maar dis iets om te omarm. Die afrigters was ook baie innoverend in hoe hulle ons elke dag energiek gehou het, met nuwe idees en uitdagings.
“Ons liggame is vars en sielkundig moet ons vars wees, so ons is almal baie opgewonde oor die kans om ons Saterdag uit te leef.”
• Leeus: Tiaan Swanepoel, Stean Pienaar, Wandisile Simelane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), André Warner, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Jannie du Plessis, Jaco Visagie, Sti Sithole.
Reserwes: Jan-Henning Campher, Ruan Dreyer, Carlü Sadie, Reinhard Nothnagel, Wilhelm van der Sluys, Morné van den Berg, Dan Kriel, Francke Horn, Nathan McBeth, EW Viljoen, Ross Cronjé.
– Netwerk24
FOTO
Wandisile Simelane, wat ’n skitterdrie teen die Bulle in verlede jaar se Superrugby Unlocked-reeks gedruk het, is terug in die agterlyn vir die Leeus se Curriebeker-halfeindstryd op Loftus Versfeld. Foto Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie