‘Bygelowige’ Rassie se hemp waai
Rugby
’n Hemp wat Rassie Erasmus as deel van ’n “ritueel” na Springbok-toetse gedra het, gaan nou help om verligting gedurende die Covid-19-pandemie te bring.
Die 47-jarige Erasmus, wat as hoofafrigter die Bokke na Wêreldbeker (WB)-glorie in Japan gevoer het en deesdae die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby is, het in 2018, toe hy die nasionale span begin afrig het, elke keer sy kleredrag verwissel wanneer die Bokke verloor het.
Saru het vroeër vandeesmaand ’n “R32-12”-veldtog bekend gestel. Die 32-12 verwys na die eindtelling van 2019 se WB-toernooi toe Suid-Afrika Engeland geklop het. As deel van die veldtog het Siya Kolisi, Springbokkaptein, reeds een van die truie geskenk wat hy in Japan gedra het. Spelers soos Pieter-Steph du Toit, Lukhanyo Am, Frans Malherbe en Damian de Allende het ook al van hul gedenkwaardighede beskikbaar gestel.
“Dit is ’n uitstekende saak en ek is dankbaar om in staat te wees om diegene wat die hardste deur die pandemie getref is te probeer help,” sê Erasmus luidens ’n verklaring van Saru.
“Die storie van die wit hemp het in 2018 begin – elke keer wat ons verloor het, het ek my klere verwissel, iets wat ongelukkig nogal baie gebeur het. Maar gelukkig het dit net een keer in 2019 gebeur, so dit is beslis ’n gelukkige hemp. Ek het besluit om dié hemp, wat ek verlede jaar in Japan aangehad het, as deel van die prys in die 32-12-veldtog te laat ‘aftree’.”
Die Springbokke se enigste nederlaag in 2019 was toe die All Blacks hulle met 23-13 in Jokohama in ’n groepwedstryd by die WB-toernooi geklop het.
Saru sê in die verklaring dat hy reeds meer as R500 000 in die eerste ses dae van die veldtog ingesamel het. ’n Kaartjie wat jou R32,12 sal kos, kan jou in aanmerking laat kom om verskeie unieke items van die Springbok-groep by die WB-toernooi te wen.
Een van die gesogste pryse op die spel is die geleentheid dat die Webb Ellis-trofee een gelukkige persoon tuis sal besoek. Daarby sal die persoon ook ’n sitplek kry op die Springbok-bus na een van die toetse wat op tuisbodem aangebied word.
Gilbert, die amptelike balverskaffer van 2019 se WB, en Saru het ook ’n beperkte hoeveelheid replikaballe wat in die eindstryd gebruik is vir elke wenner beskikbaar gestel. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie