Byderwets sukkel glo erg teen ouderwets
Byderwets sukkel glo erg teen ouderwets

Byderwets sukkel glo erg teen ouderwets

[email protected]
Andrew Poolman
Terwyl ek en ’n paar werkkollegas in September laas jaar die pad Grootfontein toe vat om ’n klubrugbywedstryd van daar regstreeks te gaan beeldsend, het een van die jongmanne die taak op hom geneem om ons almal wakker te hou en te vermaak met sy (oorwegend aanvaarbare) byderwetse musieksmaak.

Ek (as aangewese bestuurder van die minibus) het vir ’n kort entjie op pad terug die kans aangegryp om darem ook van die musiek op my foon deur die luidsprekers gehoor te kry.

Deels ook vir die afwisseling – want toe hy ons vir ’n tweede rondte van R. Kelly-nommers vat, het ek (figuurlik) my voet neergesit en gesê #MuteRKelly.

Vir my was dit vreemd hoe van die jongste vroulike kollegas toe ook intjip dat dié veroordeelde oortreder met minderjariges darem wel soms goeie musiek gemaak het, en “kom ons tref onderskeid tussen sy musiek en sy persoonlike lewe” ...

Nee, sê ek. Die lewe is net te kort en die wêreld van musiek is flippen groot. Daar is sommer baie, baie, baie ander visse in die see as R. Kelly of Michael Jackson as jy jou musieksmaak in ’n diverse groep wil deel.

Tydens my beurt het iemand uitgevra oor die oënskynlike oorheersing van instrumentale, kitaar- of “epiese moewie”-musiek met ’n HKGK-atmosfeer. Die antwoord is straks deels ’n aangeleerde voorkeur vir iets waarna jy in ’n oop kantooropset met oorfone kan luister terwyl jy rêrig op jou werk wil (moet) fokus te midde van mense met ander idees.

Dié week lees ek toe ook ’n interessante berig dat “ou” musiek nou ’n hele 70% van die Amerikaanse musiekmark verteenwoordig, volgens syfers deur ’n ontledingsfirma. “Nog erger: Die mark vir nuwe musiek is inderdaad kommerwekkend aan die krimp,” sê hulle.

Die 200 gewildste “nuwe” liedjies in die VSA op die oomblik trek maar net vyf persent van die totale stroom. Dit wys hoe die mengsel van musiek wat deur gebruikers aangekoop word meer na die ouer musiek gekantel het.

Musikante van die vorige eeu wemel op die lys van mees afgelaaide liedjies, sê die artikelskrywer, wat sê hy het die verskynsel ook by ’n eetplek beleef waar die hele personeel jonger as 30 is, maar elke musieknommer wat gespeel is, was meer as 40 jaar oud.

“Nog nooit in die geskiedenis het nuwe liedjies treffers geword en nogtans so min kulturele impak gemaak nie. Sukses in die musiekbedryf het nog altyd ’n kort raklewe gehad, maar deesdae kan selfs nuwe liedjies wat bona fide treffers word, ongesiens by die grootste deel van die bevolking verbygaan wat eerder deur die bestes van vorige dekades aangegryp word.”

Die rolspelers wie se hele sakemodel daarop gebaseer is om die nuutste wonderproduk te bemark, voer oënskynlik ’n verlore stryd teen die musiek van sestig jaar gelede. Daar was ook beswaarlik enige reaksie toe die Grammy-toekennings uitgestel is – die grootste jaarlikse viering van die nuwerwetse musiekbedryf.

“Tien jaar gelede sou 40 miljoen mense die Grammy-vertoning kyk, maar teen laasjaar het die kykers tot skaars 8.8 miljoen geval en vanjaar het 98 persent van die teikengroep tussen 18 en 49 iets beter gevind om te doen as om oor die grootste musiekpartytjie van die jaar opgewonde te raak. Nogal onheilspellend vir die bedryf.”

Selfs wanneer nuwe musiek deur al die hindernisse breek en inderdaad ’n treffer word, is die risiko van regstappe oor kopiereg groter as ooit tevore – die nagevolg van die hofuitspraak van 2015 oor “Blurred Lines”.

Selfs musikante wat reeds dood is, maak ’n virtuele terugkeer via hologramme of “deepfake” musiek, vaar beter en word meer bevorder as die lewende jong musikante wat te midde van die wêreldwye pandemie boonop probeer meeding met die algoritme van gewildheid, of ’n institusionele traagheid om nuwe talent op die voorgrond te stoot.

Ontleders vind glo betreklik min rede om optimisties te wees oor die terugkeer van die “normaal” dat die nuutste treffer die vuurwarmste op die mark is. Wanneer dit wel gebeur, kan dit straks iets totaal onverwags wees, soos wat deur die eeue gereeld gebeur het, want die krag van musiek is te onkeerbaar dat besluitnemers dit ingeperk kan hou of doodmaak.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer