Burger woeker in Eikestad
Burger woeker in Eikestad

Burger woeker in Eikestad

Swem
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die 16-jarige Windhoeker Mikah Burger het verlede naweek in Suid-Afrika ’n nuwe Namibiese langbadrekord in die 100 meter vlinderslag opgestel.

Met sy rekordtyd van 58.21 sekondes vir seuns 15-16 jaar, oortref hy Lushano Lamprecht se ses jaar oue rekord van 58.71 s. Lamprecht het dié tyd op 23 Mei 2014 by die Afrika-Jeugspele in Gaborone, Botswana, behaal.

Behalwe sy rekordtyd in Stellenbosch waar hy op uitnodiging aan ’n Grand Prix van Swem Suid-Afrika deelgeneem het, het Burger ook ’n kwalifiserende tyd behaal om aan die 2021 Junior Wêreldkampioenskap deel te neem. Besonderhede oor dié geleentheid is glo nog nie beskikbaar nie.

In beide die 200 m individuele wisselslag (2 minute 16.09 s) en 50 m vlinderslag (27.15 s) het hy vir sy persoonlike beste tye ingeklok.

Vir Burger, wat verlede Januarie laas kompeterend geswem het, is die rekord niks minder as briljant nie.

Burger het gesê: “Ek het met baie selfvertroue na die kompetisie uitgesien, want ek is die afgelope ruk deur Dean Pryce afgerig. Sy metodes was interessant en glad nie iets wat ek verwag het nie. Hy is ’n fantastiese afrigter en dit was ’n eer om deur hom touwys gemaak te word.

“Die laaste keer wat ek in ’n kompeterende gala geswem het, was in Januarie 2020. Hierdie was die ideale geleentheid om my vordering te meet en aan sekere punte van my styl te werk om my algehele vertoning te verbeter.

“Baie dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het vir my om te kon deelneem.”

Me. Amanda Burger, sy ma, sê: “Mikah het dit baie waardeer dat hy in hierdie Covid-tye in Stellenbosch kon gaan deelneem. Hy het die afgelope tyd baie hard aan die 100 vlinderslag gewerk en hy is in sy noppies met die nuwe rekord.

“Wat die belangrikste vir hom is, was dat hy vir die junior wêreldkampioenskap in dié item gekwalifiseer het, want hy het baie lank en hard daaraan gewerk. Hy moes 600 FINA-ranglyspunte verdien om te kwalifiseer en hy het 614 opgeraap.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer