Burger oorgehaal vir resies teen horlosie
Burger oorgehaal vir resies teen horlosie

Burger oorgehaal vir resies teen horlosie

Die jongman het gister nog gewag vir sy regte fietsratte uit Johannesburg.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Jean-Paul Burger, Namibië se topklas driekampatleet en Half­ysterman-wêreldkampioen in sy ouderdomsklas (18-24 jaar), is terug in Windhoek om vandag die land se bestes in padfietsry die stryd aan te sê.

Die Pupkewitz Megabuild Namibiese nasionale padfietskampioenskap word die naweek beslis met Carin-park, Brakwater, noord van Windhoek die begin- en eindpunt.

Vanmiddag net voor die eerste wegspringtyd om 16:00 sal Burger sy fietsryskoene aantrek vir die individuele tydtoets in die elite- en o.23-mansafdeling wat oor 'n strawwe 44 km (twee rondtes) beslis gaan word.

Burger sal moontlik nie Sondag weer op sy fiets, geborg deur Mannie's Bike Mecca, klim vir 'n aanslag op die gesogte padresies oor 131 km nie.

Burger, wat verlede jaar sy BCom-graad in aktuariële wiskunde op Stellenbosch behaal het, gebruik steeds die Eikestad as basis vir sy droom om vir die 2020 Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.

“Ek het verlede jaar graad gevang, maar vanweë die beskikbaarheid van oefenmaats, die fasiliteite en korter afstande na kompetisies in Suid-Afrika, sal ek nog vir 'n hele ruk in Stellenbosch wees.

“My fokus is nou 100 persent daarop om vir Tokio te kwalifiseer. Hiervoor sal ek baie moet reis om genoeg punte bymekaar te kry om te kwalifiseer. 'n Mens kry ewe veel punte vir die Olimpiese afstand of Sprint-byeenkomste wat uit 750 m swem, 20 km fietsry en 5 km draf saamgestel is.

“Dit is 'n geweldig komplekse puntestelsel wat die Internasionale Triathlonunie (ITU) gebruik. Ek sal basies net aan die Olimpiese standaardkompetisies deelneem (1.5 km swem, 40 km fietsry en 10 km draf) en die Halfystermanbyeenkomste eers opsy skuif. Daar is plek vir net 55 mans en 55 vroue by die Olimpiese Spele.

“Ek gaan 'n redelike besige jaar hê. Ek het die afgelope tyd redelik aan my vaardighede op die fiets geslyp en sal reg wees om (vandag) aan die na­sionale individuele tydtoets deel te neem.

“My eerste groot en baie belangrike driekamp vir 2019 is Sondag 10 Februarie in Kaapstad, waar die enigste Wêreldbekerbyeenkoms op die kontinent gehou word.

“Die bestes in die wêreld sal daar met strawwe mededinging in die Kaapse Waterfront wees en ek moet punte daar vir Tokio kry. Maartmaand is die SA kampioenskap, in Mei en Junie is daar Afrika-beker en Afrika-kampioenskap wat ek moet deurdraf.

“Ná dit sal ek vir 'n ruk in Europa wees om daar aan driekampkompetisies deel te neem wat ook punte tel. Ek het 'n Franse klub vir wie ek ry en sal by hulle inval waar alles vir my bekend is en die ouens my ken. Hulle is goed ingerig en ek is gewoond aan hoe dinge daar gedoen word.

“Ek wil eintlik net die tydtoets ry, maar sal nog besluit oor Sondagoggend se 131 km, want ek vlieg later Sondag terug. Indien ek dit wel ry, sal dit wees om een van die ander ouens te ondersteun. Dit gaan 'n uiters mededingende tydtoets wees, want manne soos Drikus Coetzee en Dan Craven is hier om die pap lekker dik aan te maak.

“Ek het gekom om die resies te wen en gaan nie 'n tree vir die spesialis-ryers terugstaan nie. Ek dink ek is goed genoeg om hulle te klop. Ek wag nog vir die aankoms van die regte ratkombinasie vir my geborgde Trek-tydtoetsfiets (Mannie's Bike Mecca) wat met Shimano Ultagra-toerusting spog,” het Burger aan Republikein gesê.

Om vir die uitsoekgroep van 55 manstriathlonatlete en 55 vroue vir Tokio te kwalifiseer, moet 'n persoon onder die beste 100 ter wêreld op die ITU-ranglys wees en elke land kan net sy beste drie na die Olimpiese Spele stuur. Burger is in 'n uitsonderlike situasie dat hy, afgesien van die drie ysters uit die RSA, die beste in Afrika moet wees om die vliegtuig na Japan te haal én hy moet onder die top-100 tel.

Burger bevind hom tans net-net buite die magiese 100 op die ITU wêreldranglys, maar met goeie resultate in die komende 14 maande kan hy teen volgende jaar April weet of hy vir Tokio op koers is.

“Dit is 'n vierjaarplan om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Dit is nie iets wat oornag gebeur nie,” het Burger gesê.

• Nog fietsrynuus op bl. 19.

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer