Bure met hul vure
Bure met hul vure

Bure met hul vure

Vanoggend vra die omroeper mense moet inbel en van sonde met hul bure vertel. Onwillekeurig het dit my aan 'n paar bure deur die jare laat dink – nie soseer sonde met die bure nie, as bure met hul vure.

Een van die buurmanne het skelm gerook en dan sy stompie in die buurman aan die ander kant se oprit geskiet. So gebeur dit dat een aand laat skielik 'n lewendigheid in die straat is wat die rustigheid versteur. Ek het opgestaan en by die sitkamervenster gaan loer of ek iets kan sien. Daar staan buurman en spuit die palmboom wat in ligte laaie staan met die tuinslang terwyl hy opdragte aan vrou en kinders uitdeel.

Met die eerste gesels het hy te vertelle: “Nee, toe ek weer sien, brand die palmboom” en hy het geen verklaring daarvoor gehad nie. Hy't maar net probeer om die vuur so gou moontlik te blus voor daar groot moleste is. Met die hier uitvra en daar iets laat val, kom dit uit hy het die lewendige stompie oudergewoonte oor die muur geskiet en die wind het die stompie blykbaar teruggewaai waar dit in een van die “bakkies” wat palms maak, beland het en bly smeul het. Hy is weer die huis in sonder om te besef dat daardie “bakkies” gewoonlik droë flertsies blare in het. En ja, toe hy 'n geknetter hoor en by die venster uitkyk, sien hy die boom is in ligte laaie.

Dan was daar die nuwe Engelse buurman se eerste braai in hul nuwe huis. Te oordeel aan die musiek, gesels en gelag, was die kuier alles wat 'n kuier moet wees. Die nadraai was egter amper groot moeilikheid. Die bure reg agter hulle het wakker geword van die lig van 'n brand by die grensmuur. Die vuur is gou geblus en toe het die verleentheid uitgekom . . . buurman het besluit om die braaier sommer onmiddellik na die gaste gery het, skoon te maak. Geen probleem daarmee nie, maar hy het die nog smeulende kole in 'n kartondoos gekrap en by die asdrom neergesit. Die arme man moes weke later nog die skertsery oor sy blaps verduur.

En wat van die keer toe die bure se seun besluit het hy gaan stokkiesdraai. Die mannetjie is skool toe en soos die storie loop, het drie van hulle besluit vandag is die dag. Die seuns is huis toe en het aanvanklik fliek gekyk. Maar 'n man raak mos honger en wat beter as om 'n vuurtjie aan te steek en wors te braai. Dit is alles baie rustig en in stilte gedoen om nie slapende honde wakker te maak nie. Buurvrou in die huis langs die pypsteel het egter die rook gesien en die brandweer gebel, want sy was onder die indruk niemand is tuis nie.

Toe die seuns weer sien, is die brandweerwa voor die huis gereed om die brand te blus. Gelukkig was die brandweermanne jonk genoeg om te verstaan wat gebeur het, maar pa en ma het nie so mooi verstaan nie. En arme buurvrou was jammer sy het die seuns se dag onwetend bederf.

Laat die vleisbraaivure hoog brand in 2017.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer