Bulle nou meer as bere in SA en kie
Bulle nou meer as bere in SA en kie

Bulle nou meer as bere in SA en kie

Die term bulle verwys na beleggers wat glo aandelemarkte gaan styg, en bere na dié wat die teenoorgestelde glo.
Die bulle in opkomende markte, Suid-Afrika ingesluit, is nou uiteindelik meer as die bere, toon ’n peiling van Bloomberg.

Die term bulle verwys na beleggers wat glo aandelemarkte gaan styg, en bere na dié wat die teenoorgestelde glo.

Ná twee kwartale se dalings in die opkomende lande se aandelemarkte word daar nou geglo dat die laagtepunt bereik is en dat aandeelpryse stabiel gaan bly in die laaste drie maande van die jaar.

Die peiling is onder 26 beleggingshuise in Suid-Amerika, Oos-Europa, die Midde-Ooste, Asië en Suider-Afrika gedoen.

Daar is nou meer ontleders wat glo die afverkoop van die markte en bates van ontwikkelende lande het die onderpunt bereik, as dié wat glo dit gaan voortduur.

Van die 11 markte waaroor kommentaar gelewer is op ’n ranglys van die lande met die beste tot swakste vooruitsig vir die vierde kwartaal, lê Suid-Afrika se geldeenheid sewende, staatseffekte vyfde en sy aandelemark ook vyfde.

Mexiko is bo-aan die ranglys met die beste vooruitsig vir al drie die bateklasse.

“Vertroue in die opkomende markte het in ’n mate herstel ná sterk reaksie oor beleid in Argentinië en Turkye, en minder gebeure op die politieke kalender vorentoe,” sê Marcelo Assalin, hoof van skuldmarkte van NN Investment Partners BV. “Die meeste van die opkomende markte is in ’n betreklik gesonde ekonomiese toestand . . .”

In volgorde van belangrikheid is die risiko’s vir opkomende markte gelys:

1. Die Amerikaanse Federale Reserweraad se pad met rentekoerse.

2. China se vooruitsig vir ekonomiese groei.

3. Die internasionale handelsdispuut.

4. Die beleid van die Europese Sentrale Bank.

5. Plaaslike politieke gebeure.

6. Olie- en hulpbronpryse. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer