Bul-eindstryd tussen Gim, Affies voorspel
Bul-eindstryd tussen Gim, Affies voorspel

Bul-eindstryd tussen Gim, Affies voorspel

Twee spogskole van die hoofstad hervat hul mededinging in nóg 'n finaal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die laaste episode van Krieket Namibië se uiters gesogte o.19A T20-liga vir hoërskole gaan vandag om 14:30 by die krieketveld van Trustco United in Olympia geskryf word.

Windhoek Gimnasium se eerste krieketspan, die titelhouer wat die afgelope vyf jaar dié liga oorheers, stap vanmiddag teen Windhoek Afrikaanse Privaatskool 1 (Affies) vir die finaal by Gemsbokpark op die veld.

Die twee finaliste is die eindproduk van 'n kort, maar kragtige T20-reeks waaraan Affies, Edugate (Otjiwarongo), Gobabis Gimnasium, Grootfontein Agri Kollege, Hoërskool Jan Möhr, Tsumeb Gimnasium, Windhoek Gimnasium en Windhoek Hoërskool (WHS) deelgeneem het.

In die kwarteindronde klop Windhoek Gim vir Jan Möhr, WHS skakel Tsumeb Gimnasium uit, Gobabis Gim beëindig Edugate se aanspraak en Affies vorder na die semifinaal ten koste van Agri Kollege.

In die semifinale was Windhoek Gim baas teen Gobabis Gim, terwyl Affies op sy beurt vir WHS in 'n naelbytsege gestuit het om sy plek in die finaal te bespreek.

Beide Affies en Gim het gedurende die rondomtaliewedstryde onoorwonne gebly en beskik oor verskeie nasionale o.19-spelers, asook manne wat reeds vir hul klubs op premierligavlak diens gedoen het.

Hoewel WHS die liga ook al vyf keer in die tien jaar van die kompetisie se bestaan gewen het, is dit Gim wat die afgelope vyf jaar 'n greep op die titel behou. WHS was in agt van die eindstryde betrokke en Gim het vyf keer vir 'n finaal op die veld gestap.

Kan Nicol Loftie-Eaton en sy Affiesspan vanmiddag die houvas van Jan-Izak de Villiers en Gim van die afgelope jare verbreek om vir die eerste keer as Krieket Namibië se o.19 T20-kampioenskool bekroon te word?

Gim beskik oor vier o.19-nasionale brekers, naamlik die veelsydige naatbouler Jan-Izak de Villiers, Mell Theunissen, Ramon Wilmot en Altus Opperman, terwyl Affies se kaptein Nicol Loftie-Eaton reeds menige boulaanval aan flarde geslaan het en ook sal staatmaak op JC Balt om die pap dik aan te maak.

Vorige wenners van die T20-skole­reeks: WHS (2008). WHS (2009). WHS (2010). Gobabis Gimnasium (2011). WHS (2012). WHS (2013). Windhoek Gim 2014 tot 2018.

Die Gim-span vir die eindstryd: Jan-Izak de Villiers (kaptein), Henco Rieckert, Mell Theunissen, Ramon Wilmot, Renier van der Merwe, Wian Loubser, Dirkie Theunissen, Lu Hendro de Waal, Altus Opperman, Gerhard Janse van Rensburg, Dylan Leicher. Afrigter: Gerhard Lotter.

Die span van Affies is: André Siepker, JC Balt, Nicol Loftie-Eaton (kaptein), Kristihan Brits, Keanu Engelbrecht, Christoff van Wyk, Ben Burger, Benno von Wielligh, Christiaan Delport, Mario van Wyk, Gerhard Steenkamp, Lloyd Mills, Wilmar Fourie. Afrigter: Jasper Engelbrecht.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer