Buitelandse vissermanne in hegtenis geneem

Nadat 'n buitelandse vissersboot in Walvisbaai se hawe aangelê het, is drie bemanningslede, onder wie die kaptein, summier gearresteer.
Erwin Leuschner
Erwin Leuschner – Drie Hollanders, onder hulle die kaptein van 'n vissersboot, is Saterdag op Walvisbaai in hegtenis geneem.

Die mans het glo vis op die oop see oorboord gegooi en 'n vroulike inspekteur van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne aangeval, het die woordvoerder van die Namibiese polisie vir die Erongostreek. adj.komm. Erastus Iikuyu, bevestig.

Volgens hom is die kaptein van die Cornelis Vrolijk FZN, mnr. Johannes van der Plas (44), die eerste offisier, mnr. Arend van der Boon (34), en die hengelmeester, mnr. Teunis van der Plas (47), in hegtenis geneem.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle op 26 Junie om 19:00 en op 4 Julie om 09:00 vis oorboord gegooi het. Iikuyu het nie besonderhede oor die hoeveelheid bekend gemaak nie. Tydens die twee voorvalle het hulle glo ook 'n vroulike visinspekteur “aangeval, gedreig en geïntimideer”.

Volgens Iikuyu is die drie buitelanders in hegtenis geneem nadat die vaartuig in die hawe aangelê het. Hulle het dieselfde dag in die landdroshof op Swakopmund verskyn en elk is op borgtog van N$50 000 vrygelaat.

“Hulle het klaar die borggeld betaal,” het Iikuyu gesê.

Die saak is tot 31 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer