Buffels versus beeste

Alle handelsooreenkomste vir die uitvoer van vleis is geskoei op die feit dat daar geen buffels in die kommersiële gebied teenwoordig is nie, maar Wildlife Ranching Namibia ondersteun die vestiging van ander beskermde gebiede suid van die rooilyn om buffels te vestig.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Wildlife Ranching Namibia (WRN) ondersteun die bekende Erindi Private Wildreservaat naby Omaruru se aansoek om as eksklusiewe gebied buffels aan te hou.

Volgens 'n verklaring van WRN het die organisasie dus namens sy lede vir die buffels van die Waterberg-platopark getender en ondersteun hulle die vestiging van ander beskermde gebiede suid van die rooilyn om buffels te vestig.

“Erindi is 'n uitstekende stap in WRN se soeke om kommersiële boerdery met buffels te bereik, terwyl dit ook die eerste Groot Vyf-bestemming vir Namibië wil skep,” lui die verklaring.

WRN sê die besluit om buffelboerdery suid van die rooilyn te ondersteun, was 'n wetenskaplike besluit, gebaseer op betroubare en aanvaarbare navorsing op bek-en-klouseer.

“Dit is algemene kennis dat daar tans 'n oorbevolking van buffels by die Waterberg-platopark is. Weiding is onder geweldige druk as gevolg van die droogte. “Om hierdie rede het die Namibiese ­regering die verkoop van sommige van hierdie buffels aangebied om bevolkings- en ­weidingdruk te verminder.”

Wat die huidige protokol vir die hele Namibië, behalwe vir sewe eksklusiewe gebiede betref, kan die buffels van die tender net na dié gebiede verskuif of uitgevoer word.

“Dit ontneem Namibiese wildboere die geleentheid om Namibiese buffels te besit of daarmee te boer.”

WRN meen die vrees dat buffelboerdery 'n bedreiging vir beesboerdery inhou, is 'n mite en heeltemal ongegrond: “Beesboerdery en siektevrye buffelboerdery kan sonder enige bedreigings saam bestaan as protokol gevolg word.”

Volgens WRN is dit ook 'n realiteit dat die wild- en toerismebedrywe 'n groter bydraer tot die bruto nasionale produk (BBP) as die veebedryf is.

“Daarom is dit belangrik om die poten­siaal van siektevrye buffelboerdery sonder beperkings of voorafopgestelde idees te ondersoek. Die Afrikabuffel is die enigste mees ekonomiese lewensvatbare wild­spesie in Afrika,” lui die verklaring.

WRN meen dit sal ook 'n positiewe impak op die BBP in Namibië hê, daarom is 'n ­internasionale geakkrediteerde oudit­firma aangestel om 'n volledige impakstudie op buffelboerdery in Namibië uit te voer - nie net vir wildboerdery nie, maar ook vir toerisme.

Die buffels van die Waterberg-platopark is siektevry. “Om buffels aan tradisionele beesboerdery bekend te stel, stel geen risiko aan alle beesboere nie. Dit is 'n groter kommer vir die buffelboere om te verseker dat siektevrye buffels nie in kontak met beeste is wat moontlik besmet is nie.”

WRN sê baie streng buffelprotokol is in plek en ondanks die normale beheermaatreëls van die verskeie ministeries, sal WRN ook selfregulerend wees om die gesondheidstatus van die buffel te verseker. 'n Standaard veeartsbedryfsprosedure vir buffelboerdery sal ook deur WRN aan alle potensiële buffelboere en relevante ministeries voorgestel word.

IMPAK OP BEESVLEISBEDRYF

Hou buffelboerdery werklik 'n bedreiging vir beeste in as die buffels van Water­berg siektevry is? Die hoofbestuurder van die Vleisraad van Namibië, mnr. Paul Strydom, sê buffels in die vry sone hou wel 'n risiko vir Namibië se beesvleis­uitvoere na die Europese Unie (EU) in.

“Dit gaan nie net oor die Waterberg-buffels nie, maar ook oor die moontlikheid dat nie-siektevrye buffels hul weg na die bek-en-klouseer se vry sone op verskillende maniere kan vind,” het Strydom geantwoord.

Die ekonomiese inkomste uit ­Namibiese beesvleisuitvoere die afgelope vyf jaar was altesaam N$10,5 miljard. Verlede jaar se inkomste uit beesvleisuitvoere beloop N$2,1 miljard. In 2015 was dit nog meer - N$2,3 miljard. In 2014 was dit N$2 miljard, in 2013 N$2,1 miljard en in 2012 N$2 miljard.

“Die reusebedrae aan inkomste uit ­uitvoere is ondanks die erge droogte en beperkings wat uitvoere nadelig geraak het,” sê Strydom.

Volgens die Namibië Statistieke-agent­skap is Namibië die 30ste grootste uitvoerder van beesvleis in die wêreld. Die waarde van die vleisbedryf in 2016 was N$3,9 miljard. Die vleisbedryf verteenwoordig sowat 3,6% van Namibië se bruto binnelandse produk (BBP).

Volgens die direktoraat van veeartseny­dienste in die ministerie van landbou, water en bosbou se lewendehawe-­sensus, het Namibië sowat 2,8 miljoen beeste.

ERINDI SE AANSOEK AFGEKEUR

'n Aansoek deur Erindi om buffels op hul private wildreservaat van byna 66 000 hektaar te vestig ten einde die eerste Groot Vyf-wildreservaat in Namibië te word, is deur die ministerie van landbou, water en bosbou van die hand gewys.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) sê volgens die minister, mnr. John Mutorwa, is die totale kommersiële boerderygebied in 2013 as 'n beskermde gebied geproklameer met die doel om te verhoed dat bek-en-klouseer in hierdie gebied ingebring of versprei word. Die Waterberg-platopark is egter by hierdie proklamasie uitgesluit.

“'n Verdere argument van die minister om nie buffels in dié wildreservaat toe te laat nie, is dat alle handelsooreenkomste vir die uitvoer van vleis, geskoei is op die feit dat daar geen buffels in die kommersiële gebied teenwoordig is nie,” lui die NLU se nuusbrief.

Volgens Erindi se webtuiste het dié wildreservaat van die beste geëlektrifiseerde heinings van 201 km lank en word dit daagliks gemonitor om olifante, leeus, seekoeie en wildehonde binne te hou.

“Ons doelwit is om die oorhoofse bruto binnelandse produk (BBP) van die land te bevorder deur Namibië as 'n Groot ­Vyf-bestemming te bemark.

“Ons wil ook werkskepping en vaardighede deur 'n verhoging in toerisme stimuleer,” sê Erindi.

“Wat ekotoerisme betref, wil ons met ander lande meeding wat Groot Vyf-­safari's aanbied. Ons wil ook ons natuurlike erfenis en nasionale bates behou, anders verloor ons dit aan ander lande.”

Volgens Erindi is daar San-­rotstekeninge van meer as 100 diere wat ook aandui dat buffels endemies aan die gebied was.

KOMMENTAAR OP OPNAME

Erindi het op 10 Augustus 'n opname op hul Facebook-blad begin met die vraag of buffels op Erindi gevestig moet word om die eerste Groot Vyf-reservaat in Namibië te word. Oorweldigende reaksie is in die opname verkry met die meerderheid deelnemers wat “ja” geantwoord het, maar daar was ook nee-stemme.

Ronald Kubas sê dit sal 'n risiko (bek-en-kloueseer) vir die N$2 miljard beesvleis­bedryf wees en die finansiële belange van 'n paar aandeelhouers bo die van ­honderde boere plaas.

Jenny Rood skryf toe sy verlede jaar by Erindi was, was dit so droog dat daar nie gras was nie. “Buffels het baie water nodig en ek dink nie hulle sal goed daar aanpas nie.”

Juan Ramirez meen as die diere nie oorspronklik van die gebied is nie, nee. “Dit moet 'n natuurlike reservaat wees met inheemse diere van die gebied, nie 'n diere­tuin vir toeriste nie. As hulle buffels wil sien, gaan na die Caprivistrook toe; daar is baie!”

TENDER VIR BUFFELS

Die aansoek van Erindi volg ná die minis­terie van die omgewing en toerisme onlangs 'n tenderproses begin het om 600 van die 1 000 siektevrye buffels met goeie genetika in die Waterberg-platopark te verkoop.

Volgens die ministerie is die drakrag van die Waterberg-platopark net genoeg vir 400 buffels. 'n Ander rede vir die verkoop van die buffels is dat dit soms uit die park ontsnap.

Die suksesvolle tenderaar moes die betaling vir die buffels Woensdag in die Wildproduktefonds se rekening inbetaal het.

Op navraag van Republikein wie die suksesvolle tenderaar is, het die ­permanente sekretaris van die omgewing en ­toerisme, dr. Malan Lindeque, Woensdag gesê “daar is nog vereistes waaraan voldoen moet word”.

WRN sê dit besef die belangrikheid van die bydrae van alle rolspelers en belanghebbendes om te verseker dat die uitvoer van vleis na die Europese Unie en ander lande nie negatief geraak word nie.

“Dit is noodsaaklik dat alle rolspelers verenig om 'n strategie vir die toekoms van kommersiële boerdery tot voordeel van almal te vestig.”

Daarom sal 'n werkwinkel oor siektevrye buffelboerdery in Namibië in Oktober in samewerking met die ministerie van die omgewing en toerisme gehou word. Vir navrae, e-pos die president van die WRN, mnr. Mike Bredenkamp by [email protected].

Wat is die volgende stap ná die ­ministerie van landbou, water en bosbou Erindi se aansoek afgekeur het? “Ek wil buffels op Erindi hê, wat ook al dit vereis,” ­antwoord mnr. Paul Joubert, mede-eienaar van Erindi.

“Hoeveel persentasie van die bevolking gaan uit die buffels bevoordeel word en vir hoeveel persentasie van die bevolking gaan die buffels 'n risiko inhou?” is die vraag egter op veeboere se lippe.

GESKIEDENIS VAN BUFFELS

Volgens WRN is buffels se getalle in Suider-Afrika grootliks deur die runderpes in die 1890's verminder. Namibiese buffels was vir alle doeleindes uitgewis, behalwe in die Zambezistreek. In die vroeë 1900's is buffels gereeld gesien weens die gunstige reënval en die buffelbevolking het vinnig herstel.

Die res van die Namibiese buffelbevolking het stadiger herstel, hoofsaaklik van Angola en Botswana. Die buffel het sy migrasie suidwaarts en weswaarts verhoog en teen die 1950's is buffels gereeld in die Khaudum en in die gebied noord van Etosha gesien. In 1957 is rapporteer dat buffels in die Windhoek-gebied gesien is.

'n Klein groep buffels het hulself in Etosha in 1963 gevestig. Teen 1967 was buffels 'n algemene gesig in die gebiede van Grootfontein, Otjiwarongo en Gobabis.

Die lot van die herkolonisering van die buffel is deur die oprigting van die rooilyn onderbreek.

"Dit is duidelik dat buffels endemies aan alle streke in Namibië was - vanaf die Zambezistreek tot die Oranje­rivier," sê WRN.

"Groot spronge in die wetenskap is intussen gemaak en siektebeheer is nou 'n akkurate bestuursinstrument. Met die gereelde gebruik van DNS-tegnologie, kan ­individuele buffels nou geïdentifiseer en opsporings is gewaarborg."

WRN meen dit is nou moontlik om met siektevrye buffels te teel met moderne wetenskap wat nie in die verlede beskikbaar was nie.

DINAMIESE ERA VIR WILDBOERE MET WILDLIFE RANCHING NAMIBIA

Wildlife Ranching Namibia is in 2014 gestig, gebore uit die behoefte van wildboere in Namibië vir 'n verteenwoordigende liggaam om 'n nuwe, dinamiese era van wildboerdery te betree.

WRN is 'n nie-winsgewende organisasie wat 'n wye verskeidenheid van wildboere van alle dele van die land verteenwoordig. Mnr. Mike Bredenkamp is die president.

Die hooffunksie van die organisasie is om as skakel en ­mediator tussen die wildboere, nieregerings- en regeringsorganisasies te dien om 'n gesonde werksverhouding te verseker.

WRN help ook regeringsowerhede om beleide, regulasies, norme en standaarde vas te stel wat van toepassing is op die wildbedryf, terwyl die Namibiërs die reg het om Namibiese buffels te koop, soos gewaarborg deur artikel 16 van die Namibiese grondwet.

Die hoofdoelwit is noue samewerking tussen die regeringsowerhede en wildboere om 'n gunstige milieu vir 'n snelgroeiende, dinamiese bedryf te verseker.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!