Buffelkarkasse op hospitaalbakkie

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Ses mans is Woensdag by Kongola met drie buffelkarkasse op 'n hospitaalbakkie vasgetrek.

Volgens 'n woordvoerder van die Namibiese polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, is die verdagtes – waaronder staatsamptenare – omstreeks 14:00 by die Dzoti kommunale bewaringsgebied in die Sangwali-gebied in verband met die onwettige jag van die buffels in hegtenis geneem.

Die ses verdagtes sluit in 'n 37-jarige werker van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste van die Katima Mulilo-hospitaal, 'n 32-jarige onderwyser van die Ihumba Gekombineerde Skool op Ondangwa, 'n 42-jarige man wat by die Waterberg-oord van Namibia Wildlife Resorts (NWR) werk en drie Zambiese burgers (onderskeidelik 35, 32 en 20 jaar oud).

"Die drie buffels is gestroop en op 'n Nissan-bakkie van die hospitaal met registrasiemerk GRN 7582 gelaai. Daar is beslag op die voertuig gelê, asook 'n 30.06-jaggeweer met 'n teleskoop en knaldemper," het Shikwambi gesê.

Die ondersoek duur voort.

Voorts is vyf mans, waaronder 'n skoolhoof, Maandag borgtog in die Katima Mulilo-landdroshof geweier nadat hulle verlede Vrydag met vier olifanttande in hul besit gevind is.

Die skoolhoof, mnr. Morven Mukwata (51), en sy medebeskuldigdes, mnre. Dominic Mushakwa (40), Kashongo Makando (32), Kalaluka Kalaluka (16) en Tumone Fernando (19), het voor landdros Vincent Nzaca verskyn. Hy het die saak vir verdere ondersoek tot 9 Februarie uitgestel, asook sodat die beskuldigdes regshulp kan bekom. Mukwata van die Sauzuo-nedersetting in die Sangwali-gebied, is verlede Vrydag omstreeks 13:00 by die Chotto-nedersetting in Katima Mulilo vasgetrek nadat hy glo probeer het om die tande te verkoop. Die polisie het na bewering sy bakkie deursoek en op die vier olifanttande afgekom en op die voertuig en tande beslag gelê. Mnr. George Matali het vir die staat verskyn. Dit is die tweede skoolhoof in die Zambezi-streek wat vanjaar met olifantstropery en die onwettige handel van ivoor verbind word. Die gerespekteerde skoolhoof van die Senior Sekondêre Skool Simataa in die Zambezi-streek, mnr. John Lutibezi (52), is ook vroeër vanjaar in hegtenis geneem toe hy met ivoor betrap is.

Kommentaar

Republikein 2025-07-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer