Buchter wil gemeenskap aanspoor

Tanja Bause
Tanja Bause



Vyf jaar gelede het me. Penny Shatilwe van Lüderitz met haar klein groentetuin langs haar huis in die Amilema-informele nedersetting op Lüderitz begin.

Haar huis is op 'n rots gebou en sy en haar kinders het die sand vir die tuin emmer vir emmer aangedra. Hulle versamel nog gereeld springbokmis in die berge agter hul huis.

Shatilwe het nou met 'n tuin agter haar huis begin wat dubbel die grootte is. Hier word onder meer wortels, groen en brandrissies, aartappels, soetpatats, uie, beet, radyse, kool, pampoen, waatlemoen en spinasie geplant.

“Ek het ook met 'n hangende tuin begin. Ek het dit op Google gesien. Jy vat plastiekbottels en sny die bodem af. Jy vul die bottel met sand en sit 'n plant in soos in my geval tamaties. Dan hang jy die bottel op. Die plant draai self en groei boontoe. Jy het meer plek vir ander plante in die tuin en jy spaar water.”

Penny maak al van kleins af tuin en sy is elke dag van vroegoggend in haar tuin besig.

“Wanneer ek stres, gaan ek tuin toe. Daar is vir my niks beter nie. Ek leer my kinders om selfversorgend te wees. Ons koop geen groente vir ons eie gebruik nie. Alles wat ons benodig, kweek ons self.”

Haar kinders, Meke en Michael, is ywerige helpers en volgens Penny is dit presies die liefde vir tuinmaak en groente kweek wat sy in die gemeenskap wil bevorder.

“Ek sal graag wil sien dat mense hul eie klein tuine by hul huise begin en ophou om oor die wind en die sand te kla. As jy regtig wil, sal jy 'n plan maak. Plant in 'n ou motorband, sit skadunet om jou tuin of plastiek om die wind te keer.

“Hou op verskonings soek, maak 'n plan en plant jou groente.”

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer