Bruin vrou klim in en praat reguit
Die spieëlbeeld van die Suid-Afrikaanse samelewing wat Haji Mohamed Dawjee ophou, is nie polities korrek of mooi nie, maar verwoord wat ’n ganse laag van die bevolking opgekrop het of waarvoor hulle eenvoudig nie woorde kan vind nie, skryf Marijcke Dodds.
Die klere wat jy dra, kan jou laat uitstaan of inpas. So kan jou uitrusting ’n politieke stelling maak (soos om swart na ’n protesoptog te dra) of jou tot onderdanigheid dwing, soos in die geval van ’n Victoriaanse korset.
Vir die skrywer en joernalis Haji Mohamed Dawjee is Converse-tekkies – verkieslik wittes – “die skoen-ekwivalent van gentrifikasie”. In die hoofstuk “Don’t touch me on my tekkies” verduidelik sy hoe dié tekkies eens op ’n tyd as tsotsiskoene afgeskryf is – iets wat ’n wit mens om die dood nie sou dra nie. Maar vir gekleurde mense was All Stars ’n manier om ’n stelling oor hul leefstyl te maak – deur so ’n paar tekkies aan te skaf, het jy jou as’t ware by dieselfde gemeenskap geskaar.
Namate Converse-tekkies stadigaan vastrapplek gekry het in eens spierwit woonbuurte, het hulle status verander en skielik wou almal – van skaatsplankryers en hipsters tot voorstedelike moeders – ’n paar tsotsitekkies hê. Dawjee gebruik dié skoene om aan te toon hoe verreikend kulturele toeëiening ter plaatse is, maar terselfdertyd hoe dit net een van ’n magdom kwessies is wat bly spook in ons maatskaplike en politieke landskap vol gebreke en woede.
In Sorry, Not Sorry skryf sy presies waaroor sy wil: hoe dit is om as joernalis kop bo water te hou in ’n wit wêreld, geestesiektes, en die lewenslesse wat haar anti-establishment-oupa haar geleer het. Sy bied lesers ’n intieme agter-die-skerms-blik op die byna onuitstaanbare werklikheid van bruin vroue in postapartheid-Suid-Afrika.
(Dink ’n bietjie wanneer laas het jy byvoorbeeld ’n reisartikel deur ’n swart vrou gelees waarin sy ’n tuisgekookte ete in ’n bergpas geniet . . . gekleurde mense skryf meestal oor hul stryd en harde werklikhede. Stel enigeen hoegenaamd belang in ’n liriese loflied deur swart mense oor ’n cappuccino wat hulle by ’n nuwe wegneemplek ontdek het?) Kortom: As ’n gekleurde vrou sál jy ’n lewe van struggle ly.
In haar versameling essays betrek Dawjee temas soos rassisme, feminisme en familiesake. Oor rassisme sê sy sy sal eerder met ’n slegte rassis swaarde kruis as met ’n goeie rassis omdat eersgenoemde gewoonlik meer openlik is en makliker om te herken, terwyl goeie rassiste neerkom op harde werk.
“Goeie rassiste word beskerm deur hul identifikasie as ‘anti-rassisties’. Wanneer hulle van rassisme beskuldig word – maak nie saak hoe subtiel dit neerslag vind nie – neem hulle hul toevlug tot trane,” skryf sy.
’n Mens kan die essays in enige volgorde lees en telkens verstom word deur Dawjee se aanslag wat soms vlymskerp en sardonies, soms hartverskeurend is. Sy skryf oor haar grootwordjare in ’n tradisionele Moslemgesin in Laudium, Pretoria, en hoe sy as kind aan haar baasspelerige pa se verwagtinge probeer voldoen het.
Sy voer grondige redes aan waarom die TV-reeks Downton Abbey outentieke vermaak is: “Dit is ’n reeks oor wit aristokrate en hul wit slawe wat sorg vir taamlik katartiese kykgenot”. Sy verduidelik hoe die veelversmade Bollywood-fliekgenre vir mense van die Indiese diaspora ’n voertuig is om kontak met hul wortels en tradisies te behou. (Het jy byvoorbeeld geweet méér mense in Indië lees deesdae koerante omdat die onderskrifte in Bollywoodflieks Engelse geletterdheidsvlakke ’n hupstoot gegee het in dorpies sonder skole?)
In “Depression: A journal” vertel Dawjee in dagboekstyl van haar diep persoonlike stryd met geestesiekte tussen die ouderdom van ses en 33. ’n Mens kan nie help om empatie te hê wanneer jy in dié onthullende inskrywings lees van haar skeidingsangs op ses, selfhaat op 11, haar stryd op universiteit, en ’n pynlike egskeiding wat haar in ’n kliniek laat beland het nie. Ook jóú emosies ry wipplank saam met haar geestestoestand.
Sorry, Not Sorry sal jou by tye vermaak of verkeerd opvryf (of albei), want Dawjee verwoord wat ’n ganse laag van die Suid-Afrikaanse bevolking opgekrop het of waarvoor hulle eenvoudig nie woorde kan vind nie. Gekleurde mense voer ’n ánder stryd, elke dag.
“Ons baan is vol hekkies wat ons moet oorkom,” skryf sy. “Wit mense ding ook mee, maar in hulle baan is dit ’n aflosresies. Elkeen moet ’n korter afstand aflê en kan staatmaak op ’n ondersteuningstelsel wat opeenvolgende oorwinnings moontlik maak. Ons is van die begin af onderwerp aan ’n verskeidenheid verlammende nadele, en die resies self bly ’n uitdaging.”
Die spieëlbeeld van die samelewing wat Dawjee ophou, is nie polities korrek of mooi nie, maar wel eerlik. Dit is ook snaaks en soms selfondergrawend, soos die keer toe ’n aanlyn trourokwinkel haar ’n rat voor die oë gedraai het.
In haar boek ontmasker Dawjee ’n stelsel wat wit liberale toelaat om met die beste bedoelings op te tree, “maar wat totaal doof is vir die neerbuigende aard van hul dade”. In die essay “Sorry, Not Sorry Manifesto” skryf sy oor haar vasberadenheid om hierdie uitdagings sonder berou die hoof te bied: “Ek is nie jammer oor my weiering om in gesprekke oor strukturele rassisme wit gevoelens te prioritiseer nie. Ek is nie jammer daaroor dat ons ervarings van ras van totaal verskillende plekke kom nie. Ek is nie jammer as my waarheid jou aanstoot gee nie. Selfs al is jy ’n goeie mens.” Jammer.
Marijcke Dodds is ’n teksredakteur van Muizenberg wat tans by die reistydskrif Go! werk - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie