Britse Leeus ‘woedend’ oor SA TV-beampte

Rugby
Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, is glo “woedend” nadat hy op die nippertjie ingelig is Suid-Afrika se Marius Jonker is as die televisieskeidsregter vir Saterdag se eerste toets teen die Springbokke aangestel.
BBCSport berig die Nieu-Seelandse skeidsregter Brendon Pickerill sou dié taak behartig het, maar Covid-19-reisbeperkings het ’n stokkie voor sy deelname gesteek.
Gatland is volgens die Britse media “ontsteld” dat ’n neutrale alternatief nie gereël kan word nie en “woedend” dat hy eers Donderdag oor die verandering van beamptes in kennis gestel is.
Die Leeus se afrigter was verlede week krapperig omdat Jonker, na sy mening, moes aanbeveel het dat Faf de Klerk ’n rooi kaart moes gekry het vir ’n ongeoorloofde duikslag in die wedstryd tussen Suid-Afrika A en die Leeus.
Jonker en die skeidsregter op die veld vir daardie wedstryd, Jaco Peyper, het egter saamgestem dat dit net met ’n geel kaart gestraf moet word.
Nic Berry van Australië is die skeidsregter vir die eerste toets, met die Nieu-Seelander Ben O’Keeffe en die Fransman Mathieu Raynal as sy assistente.
Daar heers ook glo steeds kommer oor die vooruitsig dat Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, sal voortgaan in sy rol as waterdraer in die toetse.
Gatland het die afgelope twee weke ’n paar dinge te sê gehad oor Erasmus wat sy lyf waterdraer gehou het in die SA A-span se oorwinning oor die Leeus, toe Erasmus in dié gewaad boodskappe aan die spelers oorgedra het tydens hul kragmeting.
Volgens die Britse media is Wêreldrugby nie van plan om Erasmus te verhoed om as waterdraer op te tree nie, maar Berry is glo aangesê om Erasmus te monitor en dat enige regte waterdraers wel die water op die veld neem.
Alain Rolland, Wêreldrugby se voormalige hoof van skeidsregters en ’n voormalige toetsblaser, het in ’n onderhoud met die Daily Mail gesê hy voel Erasmus moenie toegelaat word om as waterdraer op te tree nie en dat die Springbokke ’n skuiwergat uitbuit.
Ingevolge Wêreldrugby se reëls mag hoofafrigters nie tydens wedstryde in die “tegniese gebied” langs die veld stelling inneem nie. Jacques Nienaber is die Bokke se hoofafrigter, wat beteken dis nie teen die reëls vir Erasmus om as waterdraer ingespan te word nie.
– Netwerk24

FOTO’s Getty Images
Suid-Afrika se Marius Jonker is as die televisieskeidsregter vir die naweek se eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus aangestel.
Rassie Erasmus

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer