Brink se 'eendag' eindelik hier. . .
Resensie deur Kerneels Breytenbach
Dit is die boek waarop mense met ’n belangstelling in die Afrikaanse lettere al soveel jare wag – die binneblik op een van die mees besproke verhoudings tussen prominente skrywers. Daar is tekens van politieke bewuswording, maar in die geheel word mens getref deur die onsekerheid waarmee Brink geworstel het in een van die belangrikste oorgangstye van sy lewe. Gedryf deur sy liefde vir Jonker, onbewus daarvan dat elke woord wat hulle skryf ook die ontwaking van die seksuele revolusie ter plaatse vooruitloop.
Brink skryf (in “Ingrid”, een van die sterkste dele in sy outobiografiese Vurk in die pad) dat Jonker met haar dood “uit die werklikheid tot binne-in ’n mite” gestap het.
Daardie mite is deur die jare gevoed deur baie dinge. Brink self het uiteraard daartoe bygedra. Anna Jonker, Ingrid se suster, het deur haar skandalige gedrag en leuens wat sy na die pers aangedra het, kliphard probeer om Brink te verguis, en die blaam vir Jonker se sielkundige agteruitgang uitsluitlik aan Brink se adres gerig. Brink het homself probeer verdedig, maar haar aanslag was direk eweredig aan haar korpulensie, die felheid van haar geskel het langer weerklink as sy bedaarde, ferm antwoorde.
In die proses het baie wanopvattings rondom Brink en Jonker se verhouding ontstaan. Brink het, wanneer ’n mens hom gevra het oor die moontlike publikasie van die korrespondensie van hul minnebriewe, altyd gesê: “Eendag . . .”
Op ’n manier het hy met Vurk in die pad reeds sekere regstellings begin maak, maar dit was nog nie die stawende getuienis nie. Brink was, om dit eenvoudig te stel, te veel van ’n ware heer om ooit ’n skewe woord oor Jonker te sê. Met Vurk in die pad moes ’n mens baie tussen die reëls lees om te besef wat presies skeefgeloop het.
Eendag het met Vlam in die sneeu uiteindelik aangebreek. Soos Joan Hambidge in haar puik resensie van hierdie boek sê, lees ’n mens alles met die wete dat jy die uitkoms reeds ken. Wat die briewe daaraan toevoeg, is insig in die jong skrywers se persoonlikhede, hul reaksie op mekaar, op hul liefde, op eksterne faktore. Op die benepenheid van die vroeë 1960’s. Naas die verloop en uitspeel van hul verhouding, is dit die grein van hul lewens wat sigbaar word – jy kan die briewe lees om gewoon meer van Brink en Jonker as mense te wete te kom. Hulle verklap baie, meer as genoeg stof vir sielkundiges om te ontrafel.
Willie Burger se kontekstualisering vooraf is presies wat mens as ’n fondament nodig het om hierdie korrespondensie te kan lees en takseer. Ek weet dat Brink ook besonder tevrede sou wees met die fisieke voorkoms van dié publikasie: hardeband met ’n stofomslag, naaldstikwerk met lint, ’n pragtige fotoseksie en geen sensuur aan die kant van die redakteur, Francis Galloway, nie.
Ek het Vlam in die sneeu gelees met twee dinge in gedagte. Die een is sy opmerking in Vurk in die pad dat toe hy Jonker die eerste keer ontmoet het, hy “eensklaps gekonfronteer is met die lewende inkarnasie van ’n karakter wat [hy] toe so pas in ’n roman geskep het: Nicolette in Die ambassadeur.” Die ander is ’n opmerking wat hy teenoor Amanda Botha gemaak het, “Onvermydelik het sy . . . vir my ’n beeld van die vrou geword.” Waar Brink in Vurk in die pad erken dat die probleem wat tussen hom en Jonker ontwikkel het die feit was dat dit vir hom onmoontlik was “om haar te sien soos sy was, in stede van as die projeksie van ’n fiktiewe karakter”, lei mens ook uit Botha se onderhoud af dat dit ’n probleem is wat later weer opgeduik het in sy ander verhoudings.
Vlam in die sneeu is dan die beste toegang wat die leser van Brink kan kry tot die vorming van vrouekarakters in sy werk. Dit bied merkwaardige stof tot nadenke – asook humor, ’n groot dosis sentimentaliteit en skep ’n besonderse beeld van die hel wat Brink moes deurgaan tydens hul oorsese samesyn. Selfs Jonker simpatiseer agterna met hom daaroor!
Dis onmoontlik om ná die lees van Vlam in die sneeu nog onsekerhede oor te hou oor hoe die argetipiese vrou in Brink se onderbewussyn lyk. Die briewe lewer ook kosbare insigte op oor die tyd en tydsgees. Die heel beste daarvan kom uit die pen van Jonker, oor Rosa Nepgen. Ek het my ook verkneukel aan die wyse waarop Brink nuwe maniere vind om Jonker aan te spreek. Dit begin heel merkwaardig met “Heerlike klein mens” in April 1963 – merkwaardig omdat Brink skynbaar toe nog nie daarvan bewus was dat Jonker amper twee jaar ouer as hy was nie.
Onmiskenbaar is die drif en passie waarin die korrespondensie aanvanklik van albei kante af gevoer word, en dan die geleidelike verdwyning van passie en die vervanging daarvan deur ’n innige toon, en beleefdheid. Die laaste brief van elk is amper hartverskeurend triest (om Brink aan te haal). Ek is nog lank nie klaar gelees hieraan nie. - Netwerk 24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie