Bring 'n stem uit vir bekwaamheid
Bring 'n stem uit vir bekwaamheid

Bring 'n stem uit vir bekwaamheid

Dani Booysen
ERNST HASHAGEN SKRYF:

Die komende verkiesing is baie belangrik.

Ons moet ons verteenwoordigers op plaaslike en streeksvlak kies. As die regte keuses gemaak word, sal dit die begin van ‘n nuwe tydperk vir Namibië wees.

Al hou sekere leiers blykbaar nie daarvan nie, moet ons as wit Namibiese burgers ook ons keuse uitoefen. Moenie vergeet nie: One Namibia, one Nation en Harambee.

Daar moet 'n nuwe varsheid in denke en uitvoering kom – ‘n element van vernuwing. Van die ou weë moet ontslae geraak word. Professionele en vaardige mense moet gekies word.

Ons land het genoeg mense wat hierdie verantwoordelikheid kan aanvaar. In die Republikein kan ons in die bylae Careers lees hoeveel van ons medeburgers, ten spyte van baie moelike omstandighede, 'n sukses van hulle loopbane maak. Nie net dit nie – daar is so baie wat self baie min het en tog bereid is om te help waar dit die nodigste is.

Deur eie inisiatief, bekwaamheid en trots wys hulle vir ons almal wat gedoen kan word. Dit is mense wat nie die selfsugtige mentaliteit vertoon wat ongelukkig deur sommige van ons huidige leiers op plaaslike en streeksvlak gewys word nie. Dit is die leiers wat ons soek.

Dienslewering aan die gemeenskap moet weer die belangrikste rol speel.

As 'n mens die haglike toestande van die inwoners in die informele nedersettings oor die hele land sien, dan is dit baie duidelik dat iets daaraan gedoen moet word. 'n Tekort aan geld word altyd beklemtoon. 'n Mens herstel nie die waardigheid van mense deur straatname te verander, bont klippies op sypaadjies te gooi of 'n duur partykompleks regoor 'n vervalle hospitaal te bou nie. Duur glaspaleise, gebou deur buitelanders, beteken vir behoeftiges niks.

As die leiers van ons land toelaat dat 'n lewensoudit vir almal uitgevoer word, sal ons duidelik kan sien wie die land dien en waar al die geld heen verdwyn het.

Ons stem seker almal saam met die sekretaris-generaal van Swapo dat nie almal in die party korrup is nie. As dit so is, word dit nie nou egter hoog tyd dat die skuldiges vasgevat word nie?

Met die hulp van 'n buitelandse hokaairoeper is 'n paar korruptes toegesluit en verhoorafwagtend. Dit is egter net die oortjies van die seekoei. Dit weet ons almal!

Gekose leiers moet die weg baan vir 'n land wat gekenmerk word deur uitmuntendheid van individue uit alle uithoeke van die Namibiese samelewing. Dit is die mense wat moderne oplossings vir alle uitdagings kan en sal vind.

Daar is ook van ons huidige leiers wat hulle bes doen om die land te dien. Ongelukkig is hulle in die minderheid.

As daar ooit 'n tyd vir sterk en bekwame leiding en moeilike besluite was, is dit nou. Sonder dit sal Namibië nie aan die negatiewe uitwerking van beleidsonsekerheid, korrupsie, gebrekkige verantwoordelikheid en vermorsing kan ontkom nie.

Staak onnodige uitgawes en belê in die mense van ons land.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer