Brexit-aardbewing gaan Nam ook skok
Ronelle Rademeyer en Jo-Maré Duddy - Britte se meerderheidstem van 52% Donderdag ten gunste daarvan om weg te breek van die Europese Unie (EU), kan chaos in die handel tussen Brittanje en sy handelsvennote veroorsaak.
Dié chaos gaan Namibië, wat groot hoeveelhede beesvleis, tafeldruiwe, houtskool en bier daarheen uitvoer, nie gespaar bly nie, sê mnr. Wallie Roux, bekende handelskenner en navorser by die Namibië Landbou-unie (NLU). Roux sê die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA) wat lande in die Suider-Afikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) twee weke gelede op Kasane in Botswana met die EU onderteken het, sal nie meer op Brittanje van toepassing wees nie.
Die EPA maak voorsiening vir tarief- en kwotavrye uitvoer van onder meer Namibiese rooivleis, tafeldruiwe, vis en ander produkte na EU-lande.
Volgens handelsyfers wat deur die Namibië Statistiekagentskap (NSA) vrygestel is, is meer as N$480 miljoen se plaaslike rooivleis, tafeldruiwe en vis verlede jaar na die EU uitgevoer. ’n Groot gedeelte hiervan was vir die Britse mark bestem.
Roux sê ná die jarelange onderhandelinge tussen die SADC-groep en die EU vir hierdie ooreenkoms, sal Namibië nou oor nuwe handelsooreenkomste met Brittanje moet onderhandel.
“Dit geld natuurlik vir al die ander lande in die wêreld waarmee Brittanje handelsbande het. Namibië is nie een van die voorkeur-handelsvennote nie en dus kan verwag word dat ons eers heelwat later aan die beurt gaan kom,”sê Roux.
Hy voorsien in die tussentyd sal Brittanje terugval op die handelsreëls van die Wêreldhandelsorganisasie (WTO), wat sal beteken tariewe gaan gehef word op Namibiese uitvoerprodukte na Britse lande.
Namibië het in die 2014-’15-boekjaar goedere ter waarde van meer as N$1,8 miljard (£87 miljoen) na Brittanje uitgevoer.
Mnr. Suta Kavari, beleggingstrateeg van Capricorn Asset Management (CAM), het aan Republikein gesê die Brexit-stem het groot onsekerheid in die wêreldmark veroorsaak en wisselvalligheid tot gevolg gehad. Dié neiging gaan op kort termyn voortduur, sê hy.
Kavari verwag egter nie dat die Brexit op lang termyn ’n blywende letsel op die Namibiese ekonomie sal laat nie.
Uit Suid-Afrika word berig die nasionale tesourie het Vrydag in ’n verklaring gesê die Britte het nou verskeie opsies met betrekking tot hul handelsbande met Suid-Afrika. Die tesourie hoop klaarblyklik op die opsie waarvolgens Brittanje by die bestaande Europese vryhandelsvereniging (EFTA) van nie-EU-lande aansluit.
Dit sal Brittanje toegang gee tot die EU-mark en die bykomende voordeel vir Suid-Afrika inhou dat die Suider-Afrikaanse doeane-unie reeds ’n ooreenkoms met die EFTA het.
– Bykomende beriggewing deur Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie