Breier in sop oor begrafnis
Breier in sop oor begrafnis

Breier in sop oor begrafnis

Krieket
Die Wes-Indiese Eilande-krieket­vereniging (CWI) het gesê die werk van die hoofafrigter, Phil Simmons, is veilig, al eis die hoof van Barbados-krieket dat hy dadelik uit sy pos verwyder word omdat hy 'n begrafnis in Engeland bygewoon het.

Simmons is tans in self-isolasie in sy hotel in Old Trafford nadat hy die afgelope Vrydag sy skoonpa se begrafnis bygewoon het.

Die Sunday Trinidadian berig die CWI sê Simmons het voor die begin van die Windies se Engelse toer toestemming gehad om die begrafnis by te woon, maar dat die hoof van die Barbados-krieketvereniging, Conde Riley, meen dit was “onverantwoordelik en roekeloos” om dit tydens die Covid-19-pandemie te doen.

“Ek wil aan krieket-ondersteuners van die Windies die versekering gee dat Phil Simmons steeds die steun van die CWI het, maak nie saak wat nou gesê word nie,” het die voorsitter van die CWI, Ricky Skerritt, gesê.

“Phil se werk is glad nie in gedrang oor die brief wat geskryf is nie.

“Hy het nege maande gelede deur 'n baie streng proses gegaan om die afrigter te word en is die beste man vir die taak. Hy is steeds die beste man.”

Simmons is reeds twee keer negatief vir die corona­virus getoets en kan hom weer by die groep aansluit as sy toetsuitslae 'n derde keer negatief is.

Die 57-jarige Simmons het gesê dit was vir hom belangrik om saam met sy gesin te wees en dat dit nie die groep se voorbereiding vir die reeks van drie toetse, wat Woensdag in Southampton begin, sal raak nie.

“Dit gaan ons nie ontwrig nie. Dit gaan ons net sterker maak,” het hy gesê.

– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer