Brande in Griekeland is moontlik met opset gestig

Volgens die burgemeester van Rafina is reeds meer as 1 000 geboue en 300 motors verwoes.
Die Griekse teen­terrorismediens ondersoek die moontlikheid dat die brande in Griekeland met opset begin is, het 'n bron in die veiligheidsdiens aan Reuters gesê.

Die moontlikheid bestaan ook dat die brande begin is deur mense wat die bosgebied wou “skoonmaak” om dit te ontwikkel – iets wat al in die verlede gebeur het.

'n Duisend vliegtuie sou egter nie hierdie ­katastrofe kon keer nie, glo Dimitris ­Stathopoulos, 'n senior brandweeramptenaar.

“In daardie uur was die brand soos 'n blaaslamp wat op die huise gerig is.”

Veldbrande is nie buitengewoon in Griekeland nie, maar tot Maandag toe het die wind die brande na die binneland gewaai in die rigting van die berge. Toe draai die wind egter skielik en tel spoed op, wat mense volgens Stathopoulos 20 minute gegee het om voor die vlamme pad te gee.

“Nie eens die beste brandbestrydingstoerusting sou hulle kon help nie.”

Die dodetal staan reeds op 81 en sowat 40 mense word nog vermis.

Reddingswerkers gaan van huis tot huis op soek na nog slagoffers. Mense word ook in die see gesoek.



REDDINGSPOGING

Daar is tans glo meer as 280 brandbestryders in die omgewing van die hawedorp Rafina aan die ooskus wat probeer om die vlamme te stuit. Nog 200 ­reddingswerkers naby Agioi Theodori, wes van die hoofstad Athene, probeer om die brand daar te blus. Hulle word deur 'n helikopter ondersteun wat ook help blus, berig Time.

Dié brande aan weerskante van Athene het Maandag kort ná mekaar begin.

Dinsdag is 26 lyke van volwassenes en kinders by mekaar teen 'n afgrond gevind. Hulle het klaarblyklik voor die vlamme gevlug en in hul laaste oomblikke aanmekaar vasgeklou, berig Reuters.

By 'n vakansieoord by Mati, wat gewild is onder plaaslike inwoners, het mense die see in gehardloop om van die vlamme te ontkom. Selfs daar is mense deur die erge rook oorval.

Verskeie brande woed in elk van drie ­verskillende dele van Griekeland.

Die BBC berig ­nooddienste soek na oorlewendes terwyl winde wat tot 100 km/h bereik die brande rondom Athene aanvuur.

Mati, 'n vakansieoord aan die ooskus, bestaan nie meer nie, sê Evangelos Bournous, burgemeester van Rafina. Volgens hom is reeds meer as 1 000 geboue en 300 motors daar verwoes.

Die BBC berig dat mense wat verlate huise beset dalk van die brande begin het.

Die Europese Unie het reddingswerkers na ­Griekeland gestuur.

- Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer