BP bestee US$3 miljard in 3 dae
BP bestee US$3 miljard in 3 dae

BP bestee US$3 miljard in 3 dae

BP se aandeelprys het vanjaar met bykans 40% gestyg.
Jo-Mare Duddy Booysen
BP gaan voort om bates te verkry en het meer as US$3 miljard se ooreenkomste in drie dae gesluit.

Die maatskappy het sedert Saterdag aangekondig hy het 'n ooreenkoms van US$2,2 miljard gesluit om produksie in Abu Dhabi te verhoog, en het US$916 miljoen in olievelde in Mauritanië en Senegal belê.

Dit bring die maatskappy se totale beleggings vir 2016 op US$3,8 miljard te staan, berig Bloomberg.

Die besteding mag die begin wees van 'n nuwe groeifase vir die maat­skappy.

Bob Dudley, uitvoerende hoof, het die grootste deel van sy ses jaar by die maatskappy daaraan bestee om van bates ontslae te raak om vir die skade te betaal wat deur 'n reuse-oliestorting in 2010 in die Golf van Mexiko aangerig is. Die maatskappy het US$50 miljard hiervoor opsy gesit.

Europa se derde grootste oliemaat­skappy is nou 'n derde kleiner as wat dit in 2010 was, maar beplan om volgende jaar met sewe of agt groot projekte te begin. Die olieprys het ook pas begin herstel van die grootste ineenstorting wat hierdie generasie beleef het.

“Dit is tyd vir BP om te begin groei,” het Dudley vroeër vandeesmaand in Abu Dhabi gesê.

“Ons is deur moeilike tye in die VSA, maar ek dink die maatskappy is nou goed geposisioneer vir groei.”

BP se aandeelprys het vanjaar met bykans 40% gestyg.

Ongeag die daling die laaste paar weke, beteken dit steeds dit was vanjaar die aandeel se beste jaar sedert 1993.

Die ooreenkomste in Abu Dhabi en Wes-Afrika verseker tot in die volgende dekade nuwe reserwes en produksie vir BP, sê Brendan Warn, besturende direkteur van BMO Capital Markets in Londen.

“Die mark het sy [BP se] vermoë om ná 2020 te groei bevraagteken. Dit is die ooreenkomste wat die mark wou hê,” sê Warn.

“Die tydsberekening van hierdie ooreenkomste is ook interessant. Dit val saam met die stygende olieprys.”

Die prys van ruolie het vanjaar met meer as 45% gestyg teenoor verlede jaar se afname van 35%.



Projekte

BP het 'n 10%-belang in Eni se Zohr-gasveld in Egipte teen US$375 miljoen bekom, asook 'n groter belang in Indonesië se Tangguh-vloeibare-aardgasprojek vir US$313 miljoen.

Hy het vandeesmaand 'n US$9 miljard-uitbreiding van sy Mad Dog-diepwaterprojek in die Golf van Mexiko goedgekeur, nie ver van waar die oliestorting plaasgevind het nie. Hy gaan ook in Julie onderneem om $8 miljard te belê om die Tangguh-projek te help uitbrei.

BP sê hy kan sy besteding en dividende bekostig sonder dat hy geld hoef te leen, solank die olieprys volgende jaar tussen US$50 en US$55 per vat bly. Dit is laer as die vroeëre voorspelling van US$60 per vat.

Ruolie verhandel tans teen ongeveer US$55 per vat. Dit het vanjaar teen gemiddeld laer as US$45 per vat verhandel teenoor die US$108 per vat in 2013.

“ 'n Mens moet 'n mate van vertroue in die prys hê,” sê Dudley.

“Ons gaan egter baie, baie gedissiplineerd bly in hoe ons kapitaal bestee en watter projekte ons kies.” 

– Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-06-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer