Botsing weens man se 'roekelose bestuur'
Botsing weens man se 'roekelose bestuur'

Botsing weens man se 'roekelose bestuur'

'n Man se motor is onherstelbaar beskadig nadat hy in die vroeë oggendure in 'n botsing by 'n uitgrawing betrokke was.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die man wat duisende dollar van die Windhoekse munisipaliteit geëis het nadat hy in 'n botsing by 'n uitgrawing in die hoofstad betrokke was, se “eie toedoen van roekelose bestuur het tot die botsing bygedra”.

Elia Nailenge het N$339 579 van die munisipaliteit geëis nadat hy in die vroeë oggendure van 30 ­Januarie 2016 in 'n botsing naby die ­kruising van Nelson Mandelarylaan en Metje­straat betrokke was. Nailenge se motor is in die botsing onherstelbaar beskadig. Volgens regter Collins Parker se uitspraak het Nailenge die ­spesifieke bedrag geëis omdat die oorsaak van die botsing weens die nalatigheid van die munisipaliteit was.

Nailenge het onder meer beweer daar was nie voldoende waarskuwingstekens wat die padwerke of uitgrawing aangedui het nie; ook geen tekens wat motoriste maan om spoed te verminder nie; geen versperring is by die uitgrawing opgerig nie; die uitgrawing was nie voldoende verlig nie; en daar was ook nie ­personeel gestasio­neer met rooi waarskuwingsvlae om aankomende verkeer te waarsku nie.

Die munisipaliteit se verweer was dat die pad op of voor 29 Januarie 2016 by die kruising van Metjestraat en Nelson Mandelarylaan gesluit was.

Parker verwys in sy uitspraak na twee getuies wat vir Nailenge getuig het. Een was dr. Sibasthiaan ­Shituleni, 'n ortopediese chirurg wat ­Nailenge besoek het weens beserings wat hy in die botsing opgedoen het. Die ander een was mnr. Freddy Melvin Louw, bestuurder van U Right 24/7 ­Recovery wat Nailenge se voertuig ná die botsing weggesleep het omdat dit onherstelbaar beskadig was.

Met verwysing na 'n verkeersbeampte wat op die toneel was, sers. Errol Oneil Terblancho van Rooyen, se getuienis het Parker gesê volgens Van Rooyen het padtekens en –dromme met weerkaatsers en weerkaatsende band oral op die toneel rondgelê toe hy daar aankom.

“Gesonde verstand en gesonde mens­like ervaring sê vir my wanneer 'n pad of straat gesluit is wat normaalweg verkeer dra, is daardie straat toe vir verkeer en daar is geen deurgang nie. Gewoonlik is daar 'n teken wat sê 'pad gesluit' of iets soortgelyk,” lui Parker se uitspraak. Volgens Van Rooyen was daar nie so 'n teken toe hy by die toneel aangekom het nie.

“Ek kom tot die gevolgtrekking dat die betrokke straat nie op die tersaaklike tyd vir verkeer gesluit was nie.”

Met verwysing na Nailenge se verweer dat daar nie voldoende waarskuwingstekens by die uitgrawing was nie of te naby aan die uitgrawing was om motoriste betyds te waarsku, is Parker se gevolgtrekking dat Nailenge nie van sy omgewing bewus was nie en kon hy nie voldoende uitkyk vir sy onmiddellike omgewing voor die botsing nie.

Op die betrokke aand het dit gereën. Nailenge het getuig hy het nie sy hoofligte op volle sterkte aangeskakel nie. Ook het Nailenge gesê hy het by die spoed van 60 km/h gehou toe hy deur die verkeersligte gery het, wat groen was. Parker het bevind ­Nailenge het nie die kruising met 'n redelike spoed genader nie en nie sy omgewing ­behoorlik waargeneem nie.

“Sou hy dit gedoen het, was dit nie vir hom nodig om die gevaarlike en ondoeltreffende beweging uit te voer in 'n poging om 'n botsing te vermy nie. Die eiser het deur sy eie toedoen van roekelose bestuur tot die botsing bygedra.”

Parker het slegs 50% van Nailenge se eerste eis van N$283 483, asook N$4 000 van 'n eis vir N$56 095, en slegs N$30 000 van sy tweede eis van N$60 000 toegestaan. Die munisipali­teit moet 50% van sy regskoste dra.

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer