‘Boskos het ons deurgehaal’

Boere vertel hoe hulle planne moes maak om hul vee te help oorleef – iets wat tot verrassende resultate gelei het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Twee boere wat tydens die afgelope droogte van boskos as oorlewingsvoer gebruik gemaak het, se vee het nie net oorleef en ’n relatiewe stabiele gewig gehandhaaf nie. Onder die gegewe omstandighede is goeie produksie ook volgehou.

Mnr. Piet Gouws en Danie Jansen van Vuuren het tydens die afgelope Nasionale

Brahmaansimposium in Windhoek gepraat oor hoe hulle hul kuddes tydens die afgelope droogte deurgehaal het.

Gouws, wat op Nimmerrus in die Outjo-omgewing in die sogenaamde “vaalblok” boer, sê alhoewel hy nie ’n droogterantsoen kon bekostig nie en hy sy diere noodgedwonge op ’n oorlewingsrantsoen moes plaas, het die gemiddelde gewig van sy kudde relatief konstant gebly, sy totale bestokking het nie drasties afgeneem nie en sy kudde se dragtigheidspersentasie het redelik goed gebly.

“As die reën dus nou weer kom, is my plaas steeds in volle produksie. Boonop het die maak van boskos bykomende geleenthede gebied. Ek kon my bemarking beter bestuur en was minder uitgelewer aan noodverkope en prysdalings. Ek kon my diere terughou tot die prys herstel.

“Ek kon ook, wanneer die prys dit toelaat, ligte tollies inkoop en bosvoer gee tot voor die reën kom. Boonop het ek die benutbaarheid van my voerbos en die drakrag van my veld hierdeur verbeter,” het hy gesê.

DROOGTE SE WURGGREEP

Gouws sê hy is steeds in die droogte se wurggreep vasgevang, wat beteken die stryd duur voort in ’n tyd wat die mopanies op sy plaas nog nie bot nie en dit nog baie warm is.

Hy boer reeds 26 jaar lank met hoofsaaklik Brahmane – sy seun Pieter is die Brahmaan-stoetteler op die plaas terwyl Gouws se kommersiële kudde uit Brahmaan-kruisings bestaan.

“Ons het ’n gemiddelde reënval van sowat 380 mm per jaar. Die reënval verskil egter drasties van jaar tot jaar en tydige, genoegsame reën kom ook nie dikwels voor nie, wat die beplanning en bestuur van jou kudde beinvloed.

“Die totale reënval vir ’n jaar is nie altyd ’n aanduiding van hoe goed jou weiding is nie, want dit hang af van hoe tydig die reën geval het. Ons het drie droogtes in vier jaar gehad,” het Gouws gesê.

“’n Brahmaan benut egter bos en eet van nature aan byvoorbeeld mopanies en ghabbabos. In die noordweste het ons ’n redelike probleem met bosindringing en terwyl ons grasbronne uitgeput is, moet ons van hierdie bron gebruik maak.

“Ons kan nie net energiekos gee nie en as ons hooi moet aankoop, raak dit te duur. Ons het dus boskos oorweeg en die koste daarvan met ander moontlikhede vergelyk.”

OORLEWINGSOPSIES

Gouws sê hy moes besluit of hy sy kudde gaan verkoop soos die weiding opraak, of hy ten duurste bykomende grond gaan huur en sy beeste verskuif, of hy chemiese ontbossing gaan toepas en of hy boskos gaan maak en op sy plaas aanbly.

“Ek het in 2013 begin ondersoek instel na boskos, maar omdat ek nie handvaardig is of meganies aangelê is nie, het ek nie gehou van die manier waarop boskos gemaak word nie. Ek het besef die beginsel van boskos werk, maar die metode werk nie vir my persoonlik nie.

“Ek het artikels oor boskos gelees en ’n besoek afgelê aan boere wat van boskosmasjiene gebruik maak – een wat in die bos staan en die kos daar klaar maak.

“Die spesifieke masjien behels dat jy die bos naby die masjien uitkap, dit saam met jou ander byvoere meng en die eindproduk daar en dan in sakke plaas – gereed om vir jou vee te voer.

“Jy skuif die masjien na waar die bos is. Die proses duur 45 minute en dan het ek 400 kg voer op my bakkie wat ek gaan uitgooi en wat die bees onmiddellik vreet,” het Gouws gesê.

Sy boskos bestaan hoofsaaklik uit ghabbabos en hy sê die beeste vreet dit gulsig.

OORLEWINGSVOER

Gouws sê hy het besluit om die boskosmasjien te koop en in Julie 2015 begin om vir sy beeste boskos te voer.

“Ek het Voermeester gekontak en gevra hulle moet vir my ’n resep uitwerk van voere wat ek saam met die boskos kan gee sodat dit ’n doeltreffend kan wees.

“Hulle het ’n samestelling gegee en ek het die som gemaak en besef as ek dit volg, is ek bankrot. Ek wou my bees help oorleef, maar ek kon hulle nie eens ’n droogterantsoen gee nie. Ek moes vir hulle ’n oorlewingsrantsoen gee.”

Gouws sê hy het teen Voermeester se raad die aanbevole 40% byvoeding aanvanklik tot 30% verminder.

“Ek het besef dit is nog steeds te duur en dit na 20% gesny. My samestelling was dus 80% boskos en 20% byvoeding. Ek was skrikkerig en het nie geweet wat die resultate hiervan gaan wees nie.

“Die Brahmaan se vermoë om te oorleef en die boskos te benut, het egter tot my redding gekom. Ek dink nie ons weet nog heeltemal wat die oorlewingsvermoë van ’n grootpens is nie.”

KOSTE VAN BOSVOER

Gouws het ’n diagram van sy kapitale uitleg aan die gehoor getoon en gesê wanneer ’n boer die onkoste aangegaan het om ’n bosvoermasjien te koop, moet dit doeltreffend benut word.

“As jy dit nie doen nie, raak die masjien te duur.”

In die diagram het hy getoon dat indien jy 400 kg bosvoer per dag maak, sal dit oor vier maande N$3,65 per dag kos. Hy maak 800 kg per dag, wat hom oor vier maande N$2,05 kos. Indien iemand 200 kg per dag oor dieselfde tydperk maak, sal dit N$1,09 per dag kos.

Hy sê die byvoer wat hy moes aankoop en meng sedert hy met die bosvoer begin het, het hom soveel soos vier tot vyf speenkalwers gekos.

“Hierdie is nou sonder om die kapitale delging by te werk en behels net direkte koste.”

Volgens somme wat hy gemaak het, kos die bosvoer sowat N$1,05 per kg om te maak. Saam met die voer wat hy daarmee gemeng het, kos dit hom sowat N$7,60 per kg.

“Ek neem sowat 339 kg bosvoer en gooi 50 kg Rangeland Grower by, asook 7 kg ureum. Dan werk ek sowat 4 liter molasse by (ek verdun 20 liter molasse na 100 liter en gooi dan weer 20 liter van die verdunde mengsel by die voer). Dis my oorlewingsrantsoen van altesaam sowat 400 kg.”

“Ek gee 3 kg bosvoer per bees per dag, wat gehelp het dat my beskikbare weiding so bietjie beter gehou het. As jy egter jou vee afrond, verander die verhouding. Dan gebruik jy 40% bosvoer en 60% byvoeding,” het hy gesê.

RESULTATE

Gouws het sy rekordhouding van sy kudde se TKP asook ouderdom met eerste kalwing getoon.

“In 2010 was my TKP 380 dae per koei en die ouderdom met eerste kalwing was 36 maande. Dit was egter goeie reënjare. Dieselfde geld vir die reënseisoen van 2011, toe was my kudde se TKP 383 en ouderdom met eerste kalwing 37 maande.

“In 2015 en 2016 was die TKP 429 en die ouderdom met eerste kalwing onderskeidelik 41 en 39 maande.

“Dit is vir my ’n aanduiding dat ten spyte van baie moeiliker omstandighede, die koeie se TKP nie vreeslik verskil het soos wat mens eintlik sou verwag het nie.”

“Ons het onlangs in die kommersiële kudde dragtigheidstoetse gedoen en onder die 110 koeie was net nege nie dragtig nie. Onder hierdie moeilike omstandighede is ons van mening dat dit uitstekende resultate is.”

Gouws het ook die gemiddelde koeigewigte verstrek.

“In Augustus verlede jaar het hulle gemiddeld 425 kg geweeg. Dit het vinnig gedaal hoofsaaklik as gevolg van kalwings, en in Oktober 2015 het die gemiddeld op 402 kg gestaan. In Maart vanjaar was die gemiddeld weer 417 kg en in Julie, toe hulle hoog dragtig was, 487 kg. In Oktober vanjaar het dit op 430 kg gestaan.”

Hy het ook gewys dat sy driejarige bulle in Julie gemiddeld 497 kg geweeg het en weer 471 kg in Oktober. Die tweejariges se gemiddelde ouderdomme was in dieselfde maande onderskeidelik 355 kg en 341 kg. Die eenjariges het gemiddeld 256 en 258 kg geweeg.

VOORDELE EN UITDAGINGS

“In die praktyk het ek ervaar dat my kudde se gewigte redelik konstant op die bosvoer gebly het. My totale bestokking het nie drasties afgeneem nie en my kudde het aangehou produseer – hul dragtigheidspersentasie was steeds goed gewees. As die reën nou weer kom, is die plaas reeds in volle produksie.

Gouws sê uitdagings in verband met bosvoer en die droogte, het ingesluit dat sy kontantvloei tydens die droogte onder groot druk gekom het.

“Dit kos baie per maand om die totale byvoer te koop.

“Bykomede arbeidsbestuur is nodig, want arbeiders wil nie heeldag in die hitte staan, bosse sny en bosse deur die masjien druk nie.

“Voerbakbestuur is ook belangrik. Jy kry sterker vreters wat ander koeie weghou en jy moet dus seker maak voldoende voeding is vir almal beskikbaar.

“Nog iets belangrik is die tipe bos waarvan boskos gemaak word. Ghabbabos werk uitstekend, so ook rosyntjiebos en geelhout. Groen swarthaak wat uitloop, kan ook moontlik gebruik word.

Van Vuuren het gesê hy gebruik weer hoofsaaklik swarthaak, withaak, blouhaak en mopanie vir boskos.

“Ek gooi die voer oop op die skuur se vloer. Ons maak sowat 1 200 tot 1 600 kg voer per dag en voer daagliks 140 bees en 200 kleinvee. Ek voer ook wild en al die diere vreet dit sonder huiwering.

“Ons sny die bosse so 20 cm bo die grond af en kap die takke af. Die meeste voeding sit in die bas, maar daar gaan natuurlik van die hout ook deur. Die ideaal is dunner takkies en ons probeer die boonste takke gebruik,” het Jansen van Vuuren gesê.

“Die berging van boskos is ’n probleem. Ek het dit eenmaal vir drie dae lank geberg en dit het tekens getoon dat dit sou bederf indien dit langer geberg word en het ’n kuilvoerreuk ontwikkel. Ek wil voorts die moontlikheid ondersoek vir die verpilling van boskos of dalk om kuilvoer daarvan te maak.

“Dit kan probleme veroorsaak in die reënseisoen, want jy kan nie jou masjien laat staan nie – dis ’n kapitale uitgawe wat steeds moet werk,” het Gouws gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer