Borgtog vir vermeende dronkbestuurder
Borgtog vir vermeende dronkbestuurder

Borgtog vir vermeende dronkbestuurder

Augetto Graig
Tanja Bause

Borgtog van N$10 000 is Vrydag toegestaan aan mnr. Quintin du Preez wat in Julie vanjaar by ’n ongeluk betrokke was waarin twee mense gesterf het.
Du Preez het verlede week agter tralies by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako se polisieselle deurgebring weens klagte teen hom wat spruit uit ’n ongeluk op 30 Julie in Auasweg in Windhoek. Mnre. Damian Maurico Payne (22) en Liam Ashley September (21) het in die ongeluk naby die Safari-hotel in Windhoek gesterf. Du Preez is van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, sowel as bestuur onder die invloed van drank aangekla.
Staatsaanklaer Laura Mavuku het Du Preez se borgtog bevestig. Voorwaardes wat geld, is die inhandiging van sy rybewys en paspoort, asook dat hy nie buite die grense van Windhoek mag reis sonder om vooraf die ondersoekbeamptes in te lig nie. Du Preez moet voorts twee keer per week by die Windhoek-polisiekantoor aanmeld.
Die saak is tot 25 November vir verdere ondersoek en die bekendmaking van laboratorium-uitslae uitgestel. Hy mag tot en met sy volgende verskyning ook nie om ’n nuwe rybewys of reisdokumente aansoek doen nie.
Een van die oorledenes, September, was die pa van die tweejarige Yakira en een van drie seuns van mnr. Eugene en me. Lelanie September.
“Hy was die vredemaker in die huis en het vir sy broers gelewe. Ek weet alle ouers praat goed van hulle kinders wanneer hulle sterf, maar Liam was regtig ’n spesiale kind. Ek sê nie hy was ’n engel nie, maar hy het ’n groot hart gehad en vir mense omgegee. Ons as familie wil net hê die reg moet sy loop neem,” het sy ma, Lelanie, gesê.
Na bewering was Du Preez in 2014 in ’n ongeluk betrokke waartydens hy van agter teen ’n taxi gebots het. ’n Klage van bestuur onder die invloed van drank is teen hom aanhangig gemaak.
Die lêer het egter glo verdwyn en na bewering is die ondersoekbeampte in die saak geskors.

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer