Borg su00ea steun toe aan beleu00ebrde WP
Borg su00ea steun toe aan beleu00ebrde WP

Borg sê steun toe aan beleërde WP

Rugby
Andrew Poolman
Francois de Wet



Ondanks die Westelike Provinsie Rugbyvoetbalunie (WPRVU) se veelbesproke finansiële krisis, het die unie se hoofborg, DHL, gister aangekondig dat hy sy vennootskap met die unie met ’n verdere vier jaar verleng het.

DHL, ’n globale logistieke maatskappy, sal die WP nou tot die einde van die 2020-rugbyseisoen borg.

Soos met die vorige ooreenkoms, sal DHL die naamregte van die Nuweland-stadion besit.

“Ons is nou al vir ses jaar by rugby in die Westelike Provinsie betrokke en beskou onsself as deel van die span,” het Hennie Heymans, uitvoerende hoof van DHL Express in Afrika se sub-Sahara-streek gesê.

“Dié vennootskap met die WP het DHL gehelp om ’n huishoudelike naam in die Kaap en Suid-Afrika te word.

Die Stormers en die Westelike Provinsie is ’n span wat nie net in Suid-Afrika aansien geniet nie, maar ook in ander dele van die wêreld.

“Daarom het DHL, wat self wêreldbekend is, besluit om saam met ’n handelsmerk die pad te stap wat ook ’n passie vir spanwerk, uitnemendheid, passie en spoed het,” lui ’n verklaring deur dié maatskappy.

Die WPRVU het einde verlede jaar om die likwidasie van sy sakevleuel aansoek gedoen weens ’n benarde finansiële posisie. ’n Verlies van meer as R50 miljoen was vir 2017 voorspel, terwyl sy oortrokke fasiliteit ook reeds uitgeput was.

Remgro Sports Investments, wat deel is van die beleggingsmaatskappy Remgro, moes tot die WP se redding kom en spelers en werknemers van die unie se salarisse betaal.

Dan wou Aerios, die unie se voormalige kommersiële vennoot, ook nog R72 miljoen van die WP eis.

Aerios is in die proses om verlof tot appèl te vra teen teen die hooggeregshof se bevel om die likwidasie van die WP se sakevleuel toe te staan.

DHL is ook ’n borg van sewesrugby se Wêreldreeks, die Manchester United-sokkerklub en Formule Een-motorsport.

Dié maatskappy se tak in Afrika het ook onlangs die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, en haker Scarra Ntubeni na Nigerië geneem om DHL se kantore in Lagos te besoek en die Nigeriese kultuur te ervaar. DHL het ook groot planne om rugby in dié land te bevorder. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer