Bonsmaras werk, suiwer of gekruis

Ronelle Rademeyer
Met die onsekerheid tans oor die uitvoer van speenkalwers, word veral die boere in hier die bedryf ernstig geraak. Die oorskakeling van speenkalf- na osproduksiestelsels blyk die enigste oplossing te wees. Dit is uiters moeilik uitvoerbaar en gaan vir die meeste boere een van die grootste uitdagings wees. Die feit bly staan dat Namibiese boere optimale waarde plaaslik tot hul speenkalwers moet voeg.

Is dit moontlik vir die Bonsmara om in ’n osproduksiestelsel te presteer?
Gedurende die afgelope 12 maande is boere wat met suiwer Bonsmara of Bonsmara-kruisings boer, nege keer aangewys as Meatco se produsente van die maand. Dit is ’n uitstekende prestasie vir ’n ras om so oorheersend te wees. Al die wenners boer al vir baie jare volhoubaar met Bonsmaras, en van hierdie produsente is al meer as een keer as wenner aangewys.

Hoe is dit moontlik vir die suiwer Bonsmara-os om so kompeterend te wees?
• Daar is uitstekende bulle in die mark wat vir geslagte vir goeie groeiprestasie op die veld getoets is. Dit is hul nageslagte wat nou so goed as slagosse presteer.
• Dit is bewys dat naspeense groei min beïnvloed word deur maternale basterkrag, maar meer deur individuele basterkrag bevoordeel word. Dit beteken in kort dat jou F1-kruiskoei se maternale basterkrag min invloed in ’n osproduksie stelsel het.


Hoe kan ’n Bonsmara-boerdery met slagosse suksesvol wees?
In Bonsmara-geledere is daar lankal kennis geneem van die osprodusente se behoeftes. Dit word duidelik gewys deur die prestasies van telers se diere wat die Produsent van die Maand-afdeling gewen het.
Bonsmara-bulle wat suksesvol gebruik kan word, behoort die volgende eienskappe aan die nageslag oordra:
·Goeie na-speense groei op die veld en in die voerkraal;
·genoegsame bespiering – dit beteken meer vleis en swaarder gewig;
·mediumraam-karkas met genoegsame kapasiteit, diepte en breedte;
·optimale oogspier-oppervlakte vir ’n mediumraam bees;
·moet vroeg slagryp wees en op ’n relatief jong ouderdom genoeg vleis, gewig en vet aansit om maksimum premies te verdien;
·optimale uitslagpersentasie vir mediumraam beeste toon; en
·aanpasbaarheid hê om onder ekstensiewe toestande te presteer.

Wat is die vereistes om dit reg te kry?
·Alle bulle word aan ’n groeitoets onderwerp en alle ondergemiddelde groeiers word uitgeskot;
·bespiering word met die oog geëvalueer, of indien moontlik met ultrasoniese skandering van die oogspieroppervlakte bevestig;
·raamgrootte en volwasse gewig word met fisieke meting en weging bevestig. Teen groot raam en láát ryp diere word gediskrimineer aangesien dit meestal nie kostedoeltreffend is om die tipe diere op die veld af te rond nie;
·vroeë vetneerlegging kan bepaal word deur gereelde kondisietellings as deel van die Veldbultoets. Dit word dan bevestig met ultrasoniese skandering;
·by die meeste telers wat groeitoetse doen, word afgekeurde bulle asook groot osse deur Meatco geslag. Die uitslagpersentasies is dus bekend, word aangeteken op bestuurssagteware en deur die jare kan telers presies weet watter lynedie beste in ‘n osproduksiestelsel presteer ; en
·swak presteerders word met prestasietoetsstelsels geïdentifiseer en uitgeskot.

Veranderinge deur Meatco om osprodusente te akkommodeer
• Meatco se voorneme om die Okapuka-voerkraal se kapasiteit van 25 000 tot 30 000 speenkalwers te verhoog.
• Private voerkrale te kontrakteer om 15 000 speenkalwers slaggereed te maak.
• Die MOC-inisiatief wat in 2014 ten minste 25 000 speenkalwers gaan behels. In totaal beteken dit ongeveer 70 000 “ekstra” speenkalwers wat weens Meatco-inisiatiewe in die land gaan agterbly en as slagosse bemark gaan word. Meatco se “nuwe” inisiatiewe wys weldeurdagte strategieë om die beesvleisbedryf in Namibië, die boer (produsent) en die organisasie te bevorder. Dit word verwelkom.
As jy wil oorskakel, kyk na die volgende maatreëls:
• Beesrasse waar prestasietoetsing verpligtend is, behoort voordeel van “groter” aanvraag te kry, omdat geselekteerde en gevordere genetika in die mark beskikbaar is.
• Die nageslag van groeigetoetsde bulle behoort sekerlik ’n beter prys te behaal as die diere waar geen prestasietoetsing gedoen is nie.
• Veldvoeromset in die Namibiese konteks waar groeihormone nie gebruik mag word nie, behoort gemeet te word. Die boere en rasse wat dit wel meet, moet met beter betaling aangemoedig en ondersteun word.
• Die Bonsmara Beestelersgenootskap saam met al sy Bonsmara-boere bly aan die voorpunt om die tipe diere te teel wat groot aanvraag in die mark geniet.
• Uiteindelik moet elke boer met die minimum insette maksimum winste kan maak en in volhoubare boerderypraktyke te kan oorleef.
Vir meer oor die Bonsmara en sy sukses in alledaagse boerdery, besoek ons volgende raspromosiedag op 14 Augustus 2014. Sien daarvoor die program in hierdie uitgawe, of kontak die kantoor by [email protected]
Saamgestel deur dr. Joggie Briedenhann en die Bonsmara Beestelersgenootskap.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer