Boltina die kat haal die paal

Tanja Bause
Tanja Bause



'n Katjie wat byna 'n hele dag lank bo-op 'n hoë kragpaal in die genadelose son gestrand was, is Donderdag laatmiddag tydens 'n spanpoging gered.

Windhoek se Dierebeskermingsvereniging (DBV) het dié middag 'n versoek om hulp op hul Facebook-blad geplaas en mense het nie op hulle laat wag om te help nie.

Mnr. Percy Openshaw van Crisis Response en sy span was eerste op die toneel, maar hul leer was te kort om by die verskrikte katjie uit te kom. Boonop was die kragdrade aan.

Gelukkig het mnr. Reinhard Redecker van Nirosta met 'n lorrie en hyskraan opgedaag om tot die diertjie se redding te kom.

Die mans het 'n hok aan die hyskraan vasgemaak en mnr. Fernandus Noabeb van die DBV was gereed om daarin te klim om kat se kind 'n ekstra lewe te besorg.

Noabeb sou egter versigtig moes wees of die krag skok hom katswink.

“Ek is maar 'n bietjie skrikkerig om op te gaan, omdat die krag nog aan is. Dit is ook my eerste keer om 'n kat wat so hoog gestrand is, te red.

“Maar ek kan sien hy is baie bang en dors en kan nie afklim nie.

“Dit is hoekom ons hom moet help. En ek sál hom red. Dan sal ons hom na die DBV toe vat en ek sal vir hom 'n goeie, liefdevolle huis soek,” het hy gesê voor hy die hoë paal getrotseer het.

Windhoek se munisipaliteit het die krag afgeskakel en Noabeb is met die hyskraan gelig.

Binne sekondes het hy die katjie van die paal af getel en in 'n katmandjie gesit.

Terug op die grond is die erg gedehidreerde kat met water natgemaak en dadelik veearts toe geneem.

Volgens me. Sofie Ringquest, 'n inwoner van die straat in Windhoek-Wes waar die toneel hom afgespeel het, is daar heelwat rondloperkatte in die omgewing.

“Ek vermoed die katjie is een van hulle of een van hul babas. Die kat is seker al Woensdagnag teen die paal opgejaag - miskien deur honde, want toe ons die Donderdagoggend uit die huis kom, het ons hom reeds gesien en gehoor,” het sy gesê.

Die katjie is ná die voorval “Boltina” gedoop en volgens die DBV gaan dit goed met haar. Indien sy 'n eienaar het, kan die eienaar die DBV by (061) 238-654 skakel.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer