Bokmelkkaas help CCF met bewaring
Bokmelkkaas help CCF met bewaring

Bokmelkkaas help CCF met bewaring

Estelle de Bruyn
Wat het ’n dansende bok en die bewaring van Namibië se jagluiperds met mekaar in gemeen?
’n Besoek aan die Cheetah Conservation Fund (CCF) se modelplaas sal hierdie vraag beantwoord, want hier het “The Dancing Goat Creamery” ’n nuwe dinamika aan die landbou en bewaring gegee.
Op die plaas word met 30 Saanen- en suiwelbokke uit die Franse Alpe geboer en ook Anatoliese skaaphonde geteel, wat kan help om kuddes teen roofdiere te beskerm.
Die plaas is daagliks oop vir die publiek en word ook gebruik om opleiding aan boere te gee.
Die bokmelkkaas word verkoop om die CCF se bronne aan te vul.
Die romery stel ook ’n voorbeeld aan boere dat suiwelbokke kan help om jagluiperds te beskerm deur aan boere ’n alternatiewe inkomstebron te bied deur waarde tot die melk te voeg.
Volgens die nuusbrief van die CCF sal boere met ’n gediversifiseerde inkomstestroom minder gefrustreerd wees wanneer hul vee roofdiere ten prooi val, en sal hulle ook minder geneig wees om ’n jagluiperd te skiet en veel eerder die CCF om hulp skakel.
Volgens die CCF het bokboerdery ’n kleiner impak op die Namibiese plaasgrond-ekostelsel as wanneer met beeste geboer word. Oorbeweiding deur beeste kan bydra tot die afbreking van Namibiese plase en bydra tot bosindringing.
“Deur bokke te gebruik wat relatief ligter op die grond is, kan ’n bydrae gemaak word om die land se produksievermoë en die gehalte van die habitat vir wild te verbeter,” sê die nuusbrief van die CCF.
Die stigter van CCF, dr. Laurie Marker, het ’n landbou-agtergrond en het tydens haar verblyf in Amerika gereeld suiwelbokke beoordeel.
“Ons bokke word in uitstekende omstandighede deur ons toegewyde veeartseny-personeel versorg. Ons het die geleentheid gesien om ’n kleinskaalse kaasplaas te begin, wat nie net help om ons organisasie se werk te finansier nie, maar ook die geleentheid bied om boere en belanghebbendes op te lei om hul eie kaas te produseer,” het Marker verduidelik.
Die romery produseer hoë gehalte vakmanvervaardigde bokmelkkaas, fudge en ’n verskeidenheid bokmelk roomys.
Deur die groot vensters van die romery kan besoekers die hele proses waarneem om kaas te produseer. Die produkte is daagliks in die kafeteria van die CCF se navorsing- en opvoedkundige sentrum te koop.
Feta-, Chevre- en Ricotta-kaas verkoop teen N$145,00 per kilogram. ’n 150 gram houer kaas kos N$22,00, 250 gram kos N$36,00 en 450 gram kaas kos N$65,00. Die fudge verkoop teen N$15,00 vir ’n pak van 100 gram.

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer