Bokke weer goed op koers – Tiaan Strauss

Rugby
Hendrik Cronjé



Hokaai eers om Saterdag se toets in Perth tussen die Springbokke en die Wallabies af te maak as net as 'n kragmeting wat basies sal bepaal wie vanjaar tweede in die Rugbykampioenskap gaan eindig.

Die All Blacks mag met reg as die volslae gunsteling beskou word om weer vanjaar die reeks te wen, maar die Bokke bevind hulle volgens Tiaan Strauss in 'n gunstige posisie om die eerste keer sedert 2009 weer as die kampioen gekroon te word.

“Dit gaan wel baie moeilik wees,” sê die voormalige losvoorspeler van die Bokke en die Wallabies.

“Die volgende twee weke gaan veral belangrik en bepalend wees. Ek dink byvoorbeeld nog nie die Bokke is behoorlik getoets nie, veral nie wat hul lugspel betref nie. Ons sal ná Perth (Wallabies) en Albany (All Blacks) presies weet of ons swakplekke het en wat dit is.

“Suid-Afrika bevind hom egter in 'n goeie posisie op die puntelys. Hy het vanjaar goeie oorwinnings oor Frank­ryk en Argentinië behaal. Sy vaste fasette het my sover baie beïndruk. Dit sal 'n belangrike steunpilaar in Australasië wees.”

Die Bokke is ná die tweede ronde van die Rugbykampioenskap vanweë hul punteverskil van 40 met nege ligapunte in die eerste plek op die puntelys. Die All Blacks het ook nege punte ingesamel, maar is vanweë hul punteverskil van 26 in die tweede plek. Australië is een ligapunt laer in die derde plek, gevolg deur Argentinië wat nog nie sy rekening kon open nie.

Die nuwe doelgerigtheid en kameraadskap in die Bok-span gee Strauss hoop vir Suid-Afrika se verdere aanslag.

“Hulle wys dat hulle vir mekaar, die trui én die geskiedenis van die trui omgee. Hulle het veral op die verdediging vir my baie vasberadenheid getoon. Daar is 'n duidelike verskil tussen vanjaar se span en verlede jaar s'n. 'n Gesonde spankultuur is gevestig.

“Dis nou belangrik dat die Bokke van voor af begin teen die Wallabies. Hul aandag moet net op die Aussies gerig wees en glad nie op die All Blacks sewe dae later nie.”

Baie ruimte bestaan nog vir verbetering in die Bok-span, maar Strauss meen hulle is op die regte pad ná hul teleurstellende spel in 2016.

“Teenoor die Bokke lyk dit nie of dit goed gaan met Australiese rugby nie.

“As dit nie met die bestuur goed gaan nie, sien 'n mens dit later by die spelers ook. Dit het 'n invloed op die span. Die Wallabies het egter 'n klomp goeie individuele spelers en klein verstellings word benodig om weer suksesvol te wees.

“Vir my voel dit net of hulle in dieselfde posisie is as waarin die Bokke hulle verlede jaar dié tyd bevind het. Dit lyk nie of hulle 'n goeie spangees het nie. Ek sien ook nie daardie spreekwoordelike kanniedood-houding by die Wallabies nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer