Bokke het ‘niks’ om vir Japan weg te steek
WB-rugby
Hendrik Cronjé - Dit pla Rassie Erasmus nie dat hy sy 23-tal vir Sondag se Wêreldbeker-kragmeting met Japan in Tokio ’n dag voor die gasheerland s’n aangekondig het nie.
Erasmus het dieselfde 23-tal behou as wat vroeër in Sjizoeoka teen Italië gespeel het, terwyl Jamie Joseph, Japan se hoofafrigter, sy span eers vandag aanwys.
“Ons gee nie regtig om of die opposisie ons span ken nie,” het Erasmus gesê.
“Hulle moet nog Sondag planne maak en teen ons speel.
“Ons voel ons het die harde werk reeds gedoen. Ons het die span eintlik reeds die afgelope Sondagaand intern aangekondig. Ons voel nie daar is iets om vir die opposisie weg te steek nie.”
Die spelers self verkies dit dat die span vroeër aangekondig word, sodat hulle hul aandag net op die komende wedstryd kan rig.
Die spelers wat nie betrokke is nie, kry terselfdertyd die kans om die teleurstelling van hul weglating te verwerk.
Die Bokke het Maandag, Dinsdag en Woensdag in Tokio geoefen en sal nog net ’n kapteinsoefening voor die kwarteindstryd hê. Hul voorbereiding op die oefenveld is dus grootliks afgehandel.
“As hulle (die Japannese) van plan gaan verander vanweë ons spankeuses, dink ek dat daar ’n paar probleme in hul spankeuse-beleid is,” het Erasmus bygevoeg.
Die sterk ondersteuning wat Japan in die Tokio-stadion sal hê, kan volgens Erasmus ’n groter invloed op die kwarteindstryd hê as die tydsberekening met die aankondiging van sy 23-tal.
Die Bok-afrigter verwag dat die tuisskare ’n intimiderende faktor sal wees, maar nie dat hulle vyandig sal wees nie.
“Ons het ’n hoë agting vir Japan en hoe hy die toernooi aanbied. Ons het ook agting vir die wyse waarop hul skares Japan én die teenstander ondersteun.
“Ons weet as ons Sondag speel, sal die skare nie vyandig wees nie. Ons weet hulle is geesdriftig en respekvol. Ons besef wel dit sal ’n intimiderende atmosfeer wees.”
Die Bokke sal nie baie steun in die stadion hê nie, maar wil vir hul ondersteuners in Suid-Afrika en elders ter wêreld speel.
“Ons verteenwoordig baie meer mense as net die span hier. Ons speel beslis vir almal by die huis. Ons sien daarna uit om in ’n volgepakte stadion te speel.
“Ons is ’n trotse land. Ons weet ons land het uitdagings en ons wil Suid-Afrika met trots verteenwoordig.”
Die Bokke geniet sover die tuisskare se interaksie met die spelers – ’n ervaring wat Erasmus as ’n goeie een beskryf het in gister se nuuskonferensie, wat deur verskeie oudspelers soos Scott Hastings, John Smit, Joel Stransky en Hanyani Shimange bygewoon is.
Sondag se kwarteindstryd sal volgens Erasmus nietemin soos ’n drukkoker wees.
“Albei spanne het verskillende speelstyle en staan ’n gelyke kans op ’n oorwinning.
“Eindelik sal alles daarop neerkom wie die druk van ’n kwarteindstryd en die meegaande hoë verwagtinge die beste kan hanteer.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie