Bokke betrek Haaie se Grant Williams

Rugby
Grant Williams van die Haaie is na die Springbok-kamp in Gqeberha ontbied omdat die skrumskakel Jaden Hendrikse sy been gebreek het.
Hendrikse het dié slegte besering in die Bokke se tweede toets teen die Poemas, wat hulle met 29-10 gewen het, opgedoen. Dit was Hendrikse se tweede toets. Hy sal geruime tyd buite aksie wees.
Met hom op die krukkelys is die skrumskakels in die Bokke se groep vir die res van die Rugbykampioenskap nou Williams, Faf de Klerk, Herschel Jantjies en Cobus Reinach.
De Klerk en Jantjies het albei die afgelope twee weke met beserings gesukkel, maar sal reg wees wanneer die Bokke weer speel.
“Dis hartseer om ’n speler te verloor soos Jaden, wat regtig besig was om sy voete in die stelsel te vind en sy stempel in toetsrugby af te druk. Ongelukkig is beserings deel van die spel,” sê Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, in ’n verklaring.
“Ons is gelukkig om ’n handvol talentvolle skrumskakels in die land te hê en Grant het ons hierdie seisoen beïndruk.
“Hy sal vir seker baat vind deur deel van die groep te wees en ons sien daarna uit om te sien wat hy kan bied.”
Die Bokke geniet tans ’n paar dae af om geestelik en fisiek te herstel ná ’n paar baie besige weke.
Hulle sal vir eers in Gqeberha aanbly totdat Sanzaar aankondig waar die res van die wedstryde in die Rugbykampioenskap gaan plaasvind. – Netwerk24

FOTO’s
Grant Williams van die Haaie is opgeroep om hom by die Springbokke in Gqeberha aan te sluit. Foto Gallo Images

Jaden Hendrikse word Saterdag van die veld geneem nadat hy deur ’n duikslag van die Poema Marcos Kremer beseer is. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer