Bogemiddelde graanoes word vanjaar verwag
Bogemiddelde graanoes word vanjaar verwag

Bogemiddelde graanoes word vanjaar verwag

Ten spyte van min reën vroeg in die seisoen lyk oesvooruitskattings goed.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Namibiese klein- en kommersiële boere sal na verwagting vanjaar 135 700 ton mielies, koring, sorghum en mahangu oes.

Dit is 1% minder as verlede jaar se 137 500 ton en 12% méér as die 19 jaar-gemiddeld van 121 200 ton.

Dié goeie opbrengs word verwag ondanks die feit dat die reënseisoen laat begin het en mielieboere boonop opnuut vanjaar met ’n plaag van die vernietigende herfskommandowurm gesukkel het.

Die Namibië Eenheid vir Vroeë Waarskuwing en Voedselinligting (Newfiu) sê in sy oesverwagting- en voedselsekuriteitsverslag die reënseisoen het nie dwarsoor die land in Januarie en Februarie aan verwagtinge voldoen nie.

Die eenheid is deel van die direktoraat beplanning en sakeontwikkeling in die ministerie van landbou, water en bosbou.

Buie het einde Oktober en begin November voorgekom, waarna die reën weggebly het en dit boonop baie warm was. Nietemin wys die voorlopige oesskatting dat goeie ontkieming van graangewasse plaasgevind het.

Met die uitsondering van die Zambezistreek, waar ontkieming nié goed was nie en die kommersiële verbouingsgebiede waar laat geplant is, toon die eenheid se opname ’n noemenswaardige verbetering in die verwagte graanopbrengs.

Hoewel die oes effe laer as verlede jaar sal wees, word ’n verbetering van 12% op die langtermyngemiddeld steeds verwag.

Dit blyk verder uit die verslag dat Namibiese akkerbouers weens die laat aanvang van die reënseisoen minder hektare graan as verlede jaar geplant het. Net 299 200 hektaar teenoor verlede jaar se 322 700 hektaar graan is geplant. Dit is ’n vermindering van 7%, en boonop 12% onder die 19 jaar-gemiddeld van 338 100 hektaar.

Dít word volgens die eenheid hoofsaaklik aan die swak reënval, asook die uitbreking van die herfskommandowurmplaag toegeskryf.

Verder blyk dit baie boere in die Groen Skema-gebiede het vanjaar grondbone pleks van mielies geplant in ’n poging om die lewensiklus van die herfskommandowurm te breek.

Die eenheid merk egter in sy verslag op dat baie boere in die kommunale verbouingsgebiede nog besig was om te ploeg en te plant toe die opname gedoen is. Dit is gevolglik moontlik dat meer graan as die gerapporteerde 299 200 hektaar uiteindelik geplant is.

Die verslag toon verder 105 200 ton graan is tussen Mei 2017 en Februarie 2018 ingevoer om die nasionale tekorte aan mielies, koring en mahangu in die land aan te vul.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer