Boewe gee voor hulle is polisie

Misdaad
Tanja Bause
Vyf verdagtes wat hulself as geheime polisie voorgedoen het, het Vrydag omstreeks 16:00 'n 29-jarige taxibestuurder beroof, luidens die Namibiese polisie se misdaadverslag.

Die voorval het naby Eenhana se informele nedersetting OB David gebeur. Hulle het die slagoffer se voertuig deursoek en hom van N$120 000 beroof en hom beveel om onder hul toesig na die Ondangwa-polisiekantoor toe te ry. Langs die hoofpad tussen Ondangwa en Ongwediva het hulle hom laat stop en gesê hy het niks verkeerd gedoen nie en dat iemand van die polisiekantoor hom sal kontak sodat hy sy geld kan terugeis. Hulle het met die geld op die vlug geslaan. Die polisieondersoek duur voort.

• 'n Agtjarige meisie in die Murayi-nedersetting op Kahenge is glo in die nag tussen Donderdag en Vrydag deur 'n 25-jarige man verkrag. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.

• Mnr. Johannes Hamunime (63) is Vrydag om 06:00 na bewering deur onbekende verdagtes aangerand. Hy het die vorige dag om 13:00 sy huis verlaat en na 'n cuca-winkel gegaan. Sy dogter het hom eers die volgende dag bewusteloos met wonde aan sy kop en nek gevind. Hy is in die Oshakati-staatshospitaal opgeneem en is in 'n stabiele toestand.

• Drie onbekende persone het Vrydag om 22:00 'n man langs die hoofpad tussen Omafo en Ohangwena in die kop en kakebeen geskiet. Hulle het hom toe uit sy voertuig gegooi en met die voertuig op die vlug geslaan. Die waarde is sowat N$60 000. Hy is in die staatshospitaal op Oshakati opgeneem en sy toestand is stabiel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

• Saterdag om 21:00 is twee mans in die ouderdom van 23 en 38 by die Gam-hervestigingsplaas in die Otjozondjupastreek in hegtenis geneem. Hulle was in die besit van een olifanttand waarvoor hulle geen permit gehad het nie. Die polisie se ondersoek duur voort.

• Op die plaas Tzaas in die Outjo-distrik het onbekende mans drie sonkragpompe gesteel. Die waarde van die pompe beloop N$90 000. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer