'Boere wat aanpas, sal aanhou groei'
Samantha van den Berg - Landbouers moet besef dat dit nie meer goed genoeg gaan wees om net vir Suid-Afrika of selfs Afrika voedsel te produseer nie.
“Ek dink die doelwitte van landbou in Suid-Afrika moet wees om te help om die wêreld van voedsel te voorsien. Ons moet daarna streef om aan die voorpunt van landbou in die wêreld te wees,” het AJ van Wyk, ’n landboustudent en voormalige hoofseun van die Hoër Landbouskool Oakdale, op Agri Wes-Kaap se pas afgelope jaarkongres by die Goudini-spa gesê.
Van Wyk studeer aan die Elsenburg-landboukollege en het op ’n plaas by Riversdal grootgeword, waar hy en sy broer as die vierde geslag sal boer. Agri Wes-Kaap het hom na die jaarkongres genooi om oor sy verwagtinge vir die landbousektor in die toekoms te praat.
Van Wyk het aan kongresgangers gesê dat landbou die “spelbreker” in die Suid-Afrikaanse ekonomie moet wees. “Ons het die kennis, ons het die vaardighede, en ons het beslis die landbouleiers om dit te kan bereik.”
Hy het aangevoer dat die landbousektor voortdurend verander. Die swak wisselkoers, onstabiele politieke toestande, klimaatveranderinge en die invloede van internasionale mededinging op die vryemarkstelsel lei daartoe dat die insetkostes hoër en die risiko’s in die landboubedryf al hoe groter word.
“Dit maak dit net al hoe meer duidelik dat ons ’n Eerste Wêreldse landbouland is, maar in ’n Derde Wêreldse land se ekonomie moet funksioneer.”
Van Wyk het gesê dat hy as ’n voornemende jong boer opgewonde is oor die landbou en al die ontwikkelinge wat voorlê.
Hy glo dat boere wat as “maatskappye” saam boer, in die toekoms nie ’n ongewone verskynsel sal wees nie. Hy glo ook dat boere nie transformasie en bemagtiging as ’n bedreiging moet sien nie.
“Ons moet hierdie faktore in geleenthede omskep en dit eerder as ’n uitdaging sien wat op die speelveld van ons bedryf voorkom, want dit is hiér en dit is die realiteit wat ons sal moet hanteer.”
Van Wyk meen dat die speelveld van die landboubedryf in Suid-Afrika reeds verander het. Die boer wat in die toekoms suksesvol sal wees en sal aanhou groei, is die boer wat die beste by die veranderinge in die bedryf sal kan aanpas.
Hy het tegnologie en leierskap uitgelig as die twee groot rolspelers in die landboubedryf se toekoms. Hy het ook verwys na hoe opgewonde hy oor die jeug en hul rol in die landboubedryf is. “Daar is potensiaal, sterk waardestelsels, dryfkrag, belangstelling in tegnologie en vernuwing. Ons moet hul belangstelling prikkel en landbou ’n aantreklike beroepsrigting maak."

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie