Boere se uitgawes groei sterker as inkomste

Ontleding van die produksiekoste-indeks
Ronelle Rademeyer
Elvira Hattingh – Volgens statistieke wat deur die Namibië Landbou-unie (NLU) bygehou word, het die inkomste uit bees- en skaapboerderye met onderskeidelik 60,2% en 125% oor die afgelope tien jaar gestyg, terwyl produsente se totale uitgawes met 160% verhoog het.
Gevolglik moet bees- en skaapboere hul produktiwiteit onderskeidelik met 8,1% en 2,8% verhoog om voortaan net gelyk te breek.
Mnr. Ryno van der Merwe, president van die NLU, het op Dinsdag 30 Augustus tydens ’n beesinligtingsdag op mnr. Diethelm Metzger se plaas, Neu-Otjisaouna, gesê dit is ’n realiteit dat boerdery in hierdie stadium nie meer winsgewend is nie en groot finansiële druk ervaar word.
Mnr. Jaco Hanekom, assistentbestuurder van kommoditeite by die Namibië Landbou-unie (NLU) het later op die statistieke uitgebrei en gesê die produksiekoste-indeks vir die tweede helfte van 2016, dui aan dat die grootste uitgawe vir landbouprodusente arbeid (22%) was.
“Dit is gevolg deur brandstof en olies (17%), voer en minerale (16%), herstelwerk aan motors (14%), onderhoudskoste en verbeteringe (12%), kapitale uitgawes (8%), elektrisiteit (7%) en dieregesondheid (4%).
“Landbou-inflasie het ook op 11,17% gestaan, hoër as die eerste termyn van die jaar se 10,69%. Die styging is veroorsaak deur ’n effense herstel in kommoditeitspryse, met voer- en lekpryse wat in die tweede termyn van 2016 drasties gestyg het,” het Hanekom gesê.
Inflasie dui op die volgehoue prysstygings vir goedere en dienste en word jaarliks in ’n persentasie uitgedruk om die toename daarvan aan te dui. As inflasie styg, kan elke dollar wat ’n boer besit ''n kleiner persentasie van ''n produk of diens koop.
Hanekom het gesê landbou-inflasie het met 160% sedert die eerste kwartaal van 2006 gestyg, terwyl verbruikersinflasie met 87% oor dieselfde termyn gestyg het. “Dit beteken landbouprodusente is ná die afgelope tien jaar swakker daaraan toe as byvoorbeeld verbruikers.”
Dié situasie is egter nie ongewoon of uniek aan Namibië nie en Hanekom het Nieu-Seeland as ’n voorbeeld gebruik om te toon dat dieselfde tendense wat verbruikersinflasie asook landbou-inflasie betref, ook daar voorkom.

UITGAWES GROEI STERKER AS INKOMSTE
Hy het grafieke getoon wat aandui dat die punt waar uitgawes vir bees- en skaapprodusente se uitgawes groter as hul inkomste geraak het, reeds teen die einde van 2011 verbygesteek is. Skaapprodusente is oor die algemeen beter daaraan toe. Beesboere se uitgawes is, volgens die grafiek, sedert 2006 meer as hul inkomste. Teen die einde van 2011 was dit die laaste keer wat beesprodusente se inkomste en uitgawes min of meer gelyk was.
Hanekom het ook getoon hoe dié produsente se winsgrens oor die afgelope tien jaar gedaal het en ’n afwaartse neiging toon, met veral beesboere wat die slegste daaraan toe is. Dié syfers is deur ander sprekers benadruk.
“Beesvleispryse verhoog nie teen dieselfde koers as boere se uitgawes nie en die huidige situasie is nie volhoubeer nie. Ons ervaar dat siklusse van vyftig jaar in beesvleispryse ervaar word. Ons glo egter dat ons op die punt staan waar ons ’n verhoging in beesvleispryse gaan sien – ons het nodig om te glo dit kom, anders gaan beesprodusente nie meer lank bestaan nie,” het mnr. Roelie Venter gesê, wat ook ’n spreker was. Hy staan aan die hoof van die spesiale koördineringseenheid wat die nasionale weiveld­bestuursbeleid en -strategie (NRMPS) moet implementeer.
Die NLU se Agristat-data dui aan dat wat die gemiddelde skaapboerdery in Namibië betref, bestokkingsyfers sowat 15,3 kg per ha is, met bees wat 30 kg per ha is.
“Sowat 7,9 kg lewende gewig per ha word in skaapboerdery geproduseer, in vergelyking met 9,5 kg lewende gewig per ha vir beesboere,” het Hanekom gesê.
“Die produksiepersentasie vir skape is dus 51,9% en 31,6% vir beeste. Die netto inkomste vir lewende hawe is N$10,10/kg vir skaapboere en N$7,65/kg vir beesboere. Skaapboere het ’n netto inkomste van N$80 per ha, in vergelyking met beesboere wat sowat N$78 per ha verdien. Die verhouding tussen lewendehawe-produsente se produksie en koste is 43% in die geval van skape en 53% in die geval van beeste.”

VERGELYKING VAN INTERNASIONALE VLEISPRYSE
Sou die pryse vir slagbeeste (’n A2-karkas) in lande soos Namibië, Suid-Afrika, Engeland en Europa oor die afgelope tien jaar vergelyk word en in Namibiese dollar uitgedruk word, lyk dit asof Namibië en Suid-Afrika die beste verhogings ervaar het.
Hanekom het gesê hoewel vleispryse vir slagbeeste in Namibië sedert 2012 redelik stil staan, het die vleisprys sedert 2006 oënskynlik met sowat 105% gestyg. In Suid-Afrika het dit met 122% gestyg en in beide gevalle word produsente nou twee maal meer as in 2006 vir vleis betaal.
“Die verswakking van ons geldeenheid beteken egter dat die prysstyging effektief swakker was.”
Die Namibiese dollar of rand het egter oor dieselfde tydperk met 92% teenoor die pond en met 121% teenoor die euro verswak, wat die prysstygings vir vleisprodusente in Suider-Afrika minder lonend maak.
“In werklikheid het vleispryse in Engeland en Europa met net 46% gestyg. As dié prysstygings egter na Namibiese dollar omgeskakel word, is daar in 2006 sowat N$20 per kg vleis in Engeland betaal, terwyl hulle tans nou net meer as N$67 per kg betaal word. Dit volg nadat die vleisprys in Engeland in November verlede jaar die N$80-punt bereik het. Wat die res van Europa betref, is die vleisprys tans net ’n rapsie laer teen N$65 per kg,” het hy gesê.

VERSLAGTING EN UITVOERE
Speenkalfpryse, uitgedruk as ’n persentasie van slagpryse, het tot dusver vanjaar op 57% gestaan, vergeleke met verlede jaar se 60,6%.
Hanekom sê terselfdertyd het speenkalfuitvoere tydens die tweede kwartaal van die jaar die hoogte ingeskiet en kort op sowat 78 000 gedraai. Slagsyfers het effens gedaal en sedertdien het dit 8 000 in die eerste kwartaal bereik het en net meer as 4 000 beeste is geslag. Uitvoerabattoirs het altesaam 30 000 beeste aangekoop – sowat 10 000 meer as in die eerste kwartaal.

REDES VIR AGTERUITGANG
Van der Merwe het tydens die inligtingsdag gesê redes waarom bees- en skaapboere agteruitboer, sluit onder meer in swak bestuur, lae produksie, droogte, swak vleispryse, hoë insetkoste, swak finansiële beplanning, te veel skuld en dat boere se grond moontlik nie ‘n ekonomiese eenheid is nie.
“Terselfdertyd beïnvloed verskeie eksterne faktore boere, wat insluit ’n styging in grondbelasting, burokrasie, die voorgestelde ekonomiese bemagtigingswetgewing (NEEEB), die feit dat markte en pryse wisselvallig is, dat die verbruiker se besteebare inkomste onder druk is asook die strenger uitvoerregulasies vir speenkalwers na Suid-Afrika.
“Elektrisiteit, plaasveiligheid, opvoeding en mediese uitgawe raak duurder terwyl produksie en ekonomiese groei afneem.
“Die produsent moet egter fokus op faktore waaroor hy beheer het. Dit sluit in doeltreffende rekordhouding en produksie, bemarking en die bestuur van weiding, finansies, arbeid en risiko’s. Boere moet diversifiseer, soveel inligting as moontlik inwin en van kundigheid gebruik maak en ook hul emosies bestuur,” het hy gesê. Volgens hom sal die toepassing hiervan produsente se winsgewendheid verbeter.

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer