Boere moedeloos oor stropery

Gemeenskappe is raadop oor wat hulle te doen staan om die stroop van hul diere te verhoed.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - “Wat kan en mag boere doen wat daagliks gebuk gaan onder stropers wat onder hul wild en lewende hawe maai?

“Wat gaan gebeur wanneer hulle nie meer wild of beeste en skape en bokke op jou plaas kry nie? Wanneer daar niks oor is nie, wat gebeur dan?”

Dit is die hulproep van boere in die omgewing van Okahandja, maar ook oral in die land, wat raadop is oor stropers en wat hulle te doen staan om die probleem te takel. Word stropery aangemeld, is daar volgens die boere dikwels nie terugvoering van die polisie nie. Tog erken die boere die polisie help waar hulle kan.

Dié klagtes kom veral in die lig van die 45-jarige Okahandja-boer, mnr. Kai Rust, wat in die streekshof in Windhoek aan strafbare manslag skuldig bevind is weens die 2016-skietdood van ’n stroper. Die oorledene en drie makkers was op die dag van die tragedie, 27 Januarie 2016, in die geselskap van drie honde en bewapen met ’n panga en ’n spies, op ’n selferkende stroopsending op Rust se familieplaas in die omgewing van die tuindorp.

Tydens die verhoor het die hof gehoor Rust en twee van sy werknemers, van wie een ook namens die verdediging getuig het, was op die spoor van blaffende honde – volgens getuienis ’n teken dat stropers in die omgewing doenig kan wees. Toe hulle uiteindelik twee honde aantref, het Rust ’n skoot afgevuur. Volgens hom wou hy nie dadelik die dier van kant maak nie en het hy eers met die tweede skoot die hond getref. Hy het daarna nog twee waarskuwingskote geskiet waartydens hulle die drie ander mans van die toneel sien vlug het. Ná al dié skote het Rust en sy werknemers by nadere ondersoek die lyk van die oorledene en ’n koedoekarkas gekry. Hoewel hy volgehou het hy het niemand gesien toe hy die eerste twee skote afgevuur het nie, het streekslanddros Diergaart bevind ’n redelike persoon in sy skoene sou kon voorsien dat daar mense in die omgewing van die honde kon wees, veral omdat stropers dikwels van honde gebruik maak.

Volgens ’n boer in die omgewing sluit die slagtings dikwels beeste in. Om hul spore te vernietig, word die beeste se oorplaatjies uitgebrand, terwyl alle ander bewyse ook verwyder word. In een geval is beeste deur die stropers aangejaag, met bloed en skaafmerke aan bosse en bome se stamme soos die diere gemaal het om te probeer ontvlug. Die boer het verwys na ’n voorval waar hy 02:00 wakker gebel is deur ’n plaaswerker wat ’n pos beman en honde hoor blaf het, tussen hom en ’n onbemande pos. In 'n ter plaatse ondersoek die volgende oggend is spore gevind, terwyl die hek van een kamp oopgelos was.

“Die beeste was deurmekaar en in kampe waar hulle nie moes wees nie. Dit was waarskynlik om enige spore van die stropers uit te vee,” het die boer gesê.

Volgens die boer is ’n stukkie vleis aan ’n grensdraad gekry. Ook was daar spore van ten minste vier onbekende persone wat egter in die rigting van die grondpad verdwyn het.

“Wat staan ons nou te doen? Wat is dit presies wat boere kan doen om hul diere veilig te hou?”

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer