Boccia u2019n nuwe uitdaging vir gestremdes
Boccia u2019n nuwe uitdaging vir gestremdes

Boccia ’n nuwe uitdaging vir gestremdes

Paralimpiese Sport
Tielman van Lill
Die Namibiese Nasionale Paralimpiesekomitee (NNPK) gaan op 3 en 4 Desember ’n nuwe sportkode vir sy atlete in Namibië bekend stel.

Boccia is vir mense wat serebraal gestremd is of deur neurologiese toestande gekortwiek word wat in ’n rolstoel sit. Volgens me. Memory Kahlari van die NNPK, is Boccia ’n kompeterende sport wat in meer as 50 lande beoefen word. Akkuraatheid speel ’n groot rol waar die balle na die teiken gegooi word.

“Die spel word binnenshuis op ’n harde oppervlak gespeel en die doel is om die balle so te gooi dat dit so na as moontlik aan die teikenbal lê wat ’n Jack genoem word. Boccia is ’n Latynse woord wat ‘bal’ beteken en ’n speler moet ten minste 12 jaar oud wees. Die sport kan in enkel-, dubbel- of spanne van drie of vier aangepak word,” het Kahlari gesê.

Lihandra van der Smit wat die afgelope vyf jaar met die spel vertroud geraak het, is een van ses persone wat tans belang stel.

“Dit is soos skaak ’n taktiese spel en van wat ek in Namibië gesien het, kan daar medaljes by die volgende Paralimpiesespele gewen word. Ek het klaar iemand geïdentifiseer wat vir die 2020-Spele in Tokio voorberei moet word. As ons daar kom, moet daar medaljes gewen word,” het Kahlari vertel.

Die 29-jarige Van der Smit is ’n Namibiese burger wat al goud in Suid-Afrika ingepalm het toe sy daar op skool was. Sy het aanvanklik gesukkel om mede-spelers in die land te vind, maar sedert sy vroeër vanjaar die 12-jarige Andreas Shoombe ontmoet het, was haar probleme opgelos. Shoombe het die spel verbasend vinnig onder die knie gekry en sy afrigters voorspel ’n kampioen in wording.

“Ek hou van die sport, want dit is ’n uitdaging vir my. Ek geniet dit om dit te speel en ek wil ander ouers vra wat serebraal gestremde kinders het of aan een of ander neurologiese toestand lei om hul kinders te bring om dit te probeer speel. Wie weet, dalk sit met ons ’n klomp kampioene soos Ananias Shikongo hier,” het Shoombe opgewonde gesê.

Boccia spelers word in vier klasse volgens hul vermoëns verdeel. Die klassifisering van spelers in Namibië sal op 3 en 4 Desember in Windhoek plaasvind. Belangstellendes is welkom om die NNPK te kontak om meer van die spel uit te vind.

Kommentaar

Republikein 2026-11-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer